Monday, June 29, 2009

Lizelle: Mense-mense

Ons afdraai paadjie het langs die Nyl geeindig. Ons tente was reeds opgeslaan, maar hierdie man en sy familie het besluit dat ons baie beter sou slaap op hulle beddens, by hulle huis. Hy was trots op sy huis en toe die son gesak het, het hy dit vir ons gewys en 'n mens kon sien hy waardeer die mooi van waar hy woon. Dit was vir my mooi.



Ons het hierdie dag baie woestyn gesien. Ek wou dit graag vasvang en Lodie het bietjie off-road gegaan. Heheee. Ons het toe vasgesit, maar dit was van korte duur, want Lodie en Anja weet van bande afblaas.



Terwyl Lodie weer die bande moes op pomp, het ons hierdie warrelwind gesien!
Nee, ek speel sommer! Anja het die sand in die lug gegooi en ek het te lekker afgeneem.


Lekker koue sap, na 'n warm dag by 'n local winkeltjie.


Lodie het verlede jaar ook by hierdie mense gewoon. Hulle het dit so geniet om van hulle fotos in sy boek, Noord van Naboom, te sien. Nie almal was daar nie. Baie mense gaan na die stede soos Khartoum om te gaan werk. Die paaie word met 'n spoed gebou. Waar Lodie verlede jaar slegs grondpad gery het, is daar nou al groot dele geteer. Ons het steeds meeste van die tyd by die grondpaaie gehou. Dis waar al die lekkertes ontdek word.

Hierdie vrou, Faiza, het vir ons haar graad gewys. Sy kon gebroke Engels praat en het vir ons tee gemaak en kos aangebied. Sy het gese sy voel nie so lekker nie. Meer kon ek nie verstaan nie.


Anja gooi water oor haar kop uit. Waar jy ookal gaan staan daar erdekruike met water. Dis ongelooflik hoe koel dit bly.


Hierdie aand se oorslaap het nog 'n "ste" by gasvryste gevoeg. Met ons aankoms het die boer (wat besig was om te werk in 'n land) ons met ope arms nader geroep en in sy huis in genooi. Teen die tyd wat ons by sy huis aangekom het was daar 'n klomp vrouens en almal het ons met groot smiles, handdrukke en baie en vinnige Arabiese woorde gegroet. Ek het lanklaas soveel energieke klomp mense beleef. Die een meisie het my wenkbroue bekyk en bevoel terwyl 'n ander vra of ons al geeet het. Ek het my eerste vis hier geeet. Vars uit die Nyl. Daarna is weer chai en water aangedra en ons dames het lekker-ruik-water vir ons vis-hande gekry:


Die oupa en die ouma was soos die gom in die familie. Hulle is lief vir mekaar en selfs al verstaan ons nie hulle taal (of gebare taal) nie, kom jy agter hoe hulle met mekaar spot. Hulle lag baie.


Hier is hulle albei. Oupa sit op een van die kamp stoeltjies en ouma het haar smile ingesluk vir die foto. Sy hou daarvan om afgeneem te word, maar smile nie vir fotos nie.

Teen die tyd wat ons moes baai-baai se, was almal se hartjies maar bietjie seer. Lodie het gese dat om 'n reisiger te bly moet jy aanhou reis. Dit maak sin.



Ouma se trane het behoorlik gerol toe sy vir Anja groet. Toe ons wegry, het sy langs die bakkie gehardloop, met twee hande gewaai en aanhoudend iets in Arabies gese. Hulle het vinnig in ons harte gekruip.


'n Sudan-bus. Gewoonlik in SA wil ek bo in die busse sit. Maar ek dink nie in Soedan nie.


Nog 'n stop by mense waar Lodie verlede jaar was. Hier wys hy vir hulle van die foto's in sy boek wat hy in hulle dorpie geneem is.


Hierdie tannie se man (wat ook in die boek is) is intussen oorlede en toe Lodie vir hulle die foto wys om te vra na hom, was hulle baie hartseer. Daar is 'n groot moontlikheid dat hulle nie eers 'n foto van hom het nie. Die kleindogter het toe 'n foto met haar selfoon probeer neem van die foto in die boek.


Sy het ook vir ons afgeneem. Ek hou daarvan. Die lens draai vir 'n slag. Ek sien uit om eendag 'n boek te sien van wat die mense neem van die toeriste.



Dit is regtig baie warm in Soedan, maar net om vir julle te wys dat ons nog 100% is:

3 comments:

  1. ek volg ook lekker saam die blog. die foto's is soos altyd pragtig...lyk regtig na 'n awsome ervaring. geniet dit!!

    ReplyDelete
  2. So lekker om al die fotos te sien! Ek is somme baie jaloers Zel, jou fotos is stunning!!

    ReplyDelete