Wednesday, June 3, 2009

Annami: Tweede onbeplande dag in Awassa

2 Junie 2009

Anja het my vanoggend weer net na sewe by my deur kom aanklop.  Haar eerste woorde aan my was "Are you okay?"  Aangesien my maag nie wou ophou draai as ek kla nie, het ek so ver gegaan as om met 'n "yes, yes,  I'm okay," te antwoord.

"Are you really okay?"  'n Inherente drang om eerlik te wees en 'n goor gevoel wat my lyf in besit geneem het, kon net nie ja sê nie.

Iets groots was fout.  Tot my verbasing het Lodie ook deur die loop van die nag 'n maagkwaal opgedoen.  Ons sou nie net nog 'n dag in Awassa met sy betroubare toilette deurbring nie, ons sou ook 'n hospitaal aandurf. 

In hierdie stadium het 'n dokter na 'n baie welkome vooruitsig geklink.   Geen middel wou die helsem van 'n kiem stuit of enigsins beïnvloed nie.  En my gewoonlik betroubare medikasie was nie net besig klaar te raak nie, dit was ook my grootste bron van voedsel.  Ek kon eenvoudig nie eet nie. 

Ons is kort nadat Anja by my aangekom het, met een van die blou en wit driewielhuurmotorfietsies op pad na die een of ander hospitaal toe.   Teen hierdie tyd het ons al twee so sleg gevoel dat skoon naalde die enigste rede tot vitterigheid kon wees.  En hieroor het ons geen rede tot kommer gehad nie.

Die hospitaalreuk het my vir sekond ietwat van balans af gehad.  Ek gaan nooit hospitaal toe nie en in uiterste gevalle besoek ek 'n spreekkamer. 

 In die nou gangetjie waar ons ingestap het, het daar reeds 'n hele paar pasiënte gewag.  Lodie het  nogal gesê:  "Hier sal ons leer wat gelykheid beteken."  

'n Man het ons raakgesien en ons dadelik gehelp.  Hulle het ons voor die wagtendes gehelp.  Anja het namens my en Lodie die nodige dokumente ingevul.  'n Vriendelike man het my in 'n klein kamertjie wat as 'n "screening room" beskryf is, gevat.  Hier het hy na my simptome uitgevra en ook my bloeddruk geneem.

Ek moes net 'n rukkie wag voordat ek deur 'n dokter ondersoek sou word.   Terwyl ek gewag het, is Lodie deur dieselfse proses.  Anja het heen en weer tussen ons twee beweeg. 

Dieselfde man wat my in die "screening room" ondersoek het, het my kom haal vir die doktersondersoek.    Eers het hy my gevra om in die een "emergency room" te wag.  Daar het 'n man met afgeleefde oë 'n geliefde se hand vasgehou.   Ek het 'n rukkie daar bly sit, maar dit het indringerig gevoel.  Die man met die wit doek oor hom het nie nog 'n stel  oë op hom nodig gehad nie.  Dit sou net beter wees om in die gang te wag.

Kort voor Lodie uitgekom het, is 'n totaal misvormde man tussen 'n horde toeskouers ingebring.  'n Mens kon sien hy was in 'n grusame ongeluk.  'n Deel van sy gesig het verskuif.  'n Massa verbande is deur iemand aangesit, maar dit kon nie die seer wegsteek nie.

Dokter Tilahun Demís het ons altwee ondersoek.  En na 'n hele paar monters by die hospitaal se laboratorium geneem en binne ongeveer 'n uur ontleed is, is dit beslis dat ek en Lodie dieselfde kwaal onder lede het. 

Iewers langs die pad het ons besmette kos of water ingekry wat tot infeksie gelei het.   Lodie beweer dit was 'n poging van Anja om ons te vergiftig.  (Grappie)  

By die apteek het ons 'n voorgeskrewe anti-biotikum aangeskaf en ook ons rehidrante aangevul. 

Ethiopië en sy mense het ons vandag goed behandel.

Dit was asof alles eensklaps anders was.  Waar ek my ookal bevind het, het die een of ander vriendelike hand gegroet.  Hier in Awassa het die mense nie meer op ons afgestorm nie.   Baie minder mense staan nog bakhand.

Na 'n middagslapie het ek en Anja besluit om te gaan stap en impulsief 'n huurmotorfietsie voorgekeer.  Die bestuurder het ons vir 6Birr by 'n plekkie naby die Awassa meer afgelaai.  Ek en Anja die laaste stukkie van die rustig rongedwaal en die rustigheid van die omgewing ingedrink. 

'n Rare skepsel het op 'n kol na ons toe gestap en ons 5Birr aangebied.  Vir 'n slag wou iemand nie geld van ons gehad het nie.

Soos wat ons verder teen die meer afgedrentel het, het ons koeldrankplekkies en bankies teëgekom. Dit was amper 'n liefdesoase.  Almal was rustig, vredeliewend, verwelkomend en die meeste mense het hande vasgehou.

Dit het soos 'n hippie-hawe gevoel.

Ons het stelselmatig teruggestap hotel toe. (Steeds die Yamare-hotel) Padlangs het die vriendelike gesigte net nog meer geword.

'n Klein dogtertjie het selfs na Anja toe gekom, haar hand gevat en gesê:  "I love you…"

Ons kon net glimlag.


*  Ek het gedurende die reis geen foto's op die blog gesit nie.  Sodra ek in Suid-Afrika is (met vinniger Internet) sal ek dit oplaai.

No comments:

Post a Comment