Marizanne: 12 Junie 2009
Gistermiddag laat het Lodie besluit dit is weer tyd vir sy nuwe, gunsteling stokperdjie – hotelhopping. Ons het met 'n Tuk-Tuk ('n klein goggomobiel) na die Tana Hotel gery. Die teenwoordigheid van televisies het Lodie beïndruk. Ons het na 'n demokratiese verkiesing besluit om (weer) te trek en hotelle te verander. (Lodie was die enigste wat teen trek gestem het. Die twee dames was daarvoor, skoon baddens en storte, julle verstaan?)
'n Kamer in Ethiopië kos dikwels net soveel soos kampering, daarom is ons nou meer in kamers.
Gisteraand het ek my eerste muskietpartytjie bygewoon. Dit was nou vir jou 'n affêre. Almal bly die grootste deel van die nag wakker en sing sulke woes irriterende liedjies. Ek hoop my volgende uitnodiging raak weg in die pos.
Na 'n lekker omelet en roosterbrood het ons die Groot Trek aangepak. Ons het op pad by 'n reisagentskap gestop. Lodie en Anja wil baie graag die beroemde klipkerke in Lalibela besoek, maar dit sal omtrent vier dae vat as 'n mens met die kar soontoe sou ry en terug. Die reisagentskap het ons goed behandel. Dit werk nou mooi uit: more ry ons Gondar toe. Sondagoggend vlieg ons Lalibela toe en Maandagoggend vlieg ons terug. Dit is darem mos vir jou 'n once in a lifetime geleentheid!
Ons het gister al vir ons 'n boot bespreek sodat ons van die eilande op die Tana Meer kan besoek. Die kêrel wat dit aan ons bemark het, het ons egter bietjie bedrieg. Ons was veronderstel om 'n Engelssprekende gids ook op die boot te hê, maar hy/sy is eenvoudig op 'n vroeë langnaweek gestuur. Na min of meer 'n uur het ons by die eerste eiland aangeland.
Ons het betaal om 'n Ortodokse Christenkerk/klooster te sien. Dit is 'n ronde gebou met twee ingange: een vir die vroue en een vir die mans. In die middel van die vertrek is daar nog 'n geboutjie waarbinne slegs die hoë priester mag gaan. Ons moes ons skoene uittrek en 50 Birr betaal om foto's te neem (bo en behalwe die 90 Birr se ingangsfooi). [Birr is die Ethiopiese geldeenheid. Dit laat my die heeltyd dink aan die Coke side of life]. Die mure binne-in is geverf volgens Bybelverhale. Dink aan die helderste kleure wat daar is; meng dit saam sonder om dit kitsch te laat lyk en dan kry jy die resultaat van hierdie kunswerke. Die klooster is glo in die 16de eeu gebou. Dit was 'n unieke ervaring. Dis net jammer ons het gevoel asof ons totaal uitgebuit word.
Op die volgende eiland waarheen ons was word geen vroue toegelaat nie. Ek en Anja het uit die boot geklim en so 15 meter verder op 'n klip gaan sit en wag dat Lodie hierdie eiland se kerk besoek. Ons het vir 'n rukkie lekker gesels met 'n vrou wat in Londen bly en sy het vir ons elkeen 'n piesang gegee. Toe sy weg is was ek en Anja die enigste twee vroue op 'n all men eiland. Ons het eenvoudig gesit, want ons mag nie verder beweeg het nie. Dit het naderhand begin donderweer. Ons lot: bly buite sit onder die boom, want julle durf nie skuiling gaan soek in die kerk nie. Dankie tog dit het nie begin reën toe ons daar was nie.
Na hierdie ontstellende ervaring van openbare diskriminasie en seksisme (grappie) het ons besluit om maar terug te kom Bahir Dar toe. Dit het reeds begin reën in sekere dele en die see was rowwer as toe ons gegaan het. Ek het by tye werklik gedink my ingewande word my uitgewande. Dit wat Lodie en Anja die heeltyd bespreek het, vra julle? "Watter foto van Marizanne The Wild One waar sy in haar naar-posisie hang, sal die beste vir die blog werk". Met sulke vriende...
Niks het gelukkig gebeur nie, maar as dit vandag Vrydag die dertiende was het hierdie storie dalk 'n ander einde gehad het.
Ek kan nie glo dat ek oor 'n week basies by die huis is en moet leer vir my laaste eksamen nie. Ek dink ek gaan aan bomskok ly. Mens kan nie Afrika besoek en nie as 'n ander mens teruggaan nie. Dít belowe ek julle.
No comments:
Post a Comment