Monday, June 1, 2009

Annami: Laaste dag in Kenia

29 Mei 2009

Vrydagoggend was koel in Turbi.  Die wolke het die lug grys gemaak.  Soos wat ons die dorpie agter ons gelaat het, kon ek dit nie help om aan Kabali te dink nie.  Sy is 'n agt jaar oud.  Haar armpies het snymerke en haar hartjie nog meer. 

Sy wou wegskram vir die vreemdelinge, maar toe ek sê:  "Kabali, you've got the most beautiful eyes," het sy skaam geglimlag.  Ek verbeel my haar ogies het vir 'n oomblik geglinster, maar al die aandag het haar weer laat wegkyk.   Sy het die letsels weer met haar bruin truitjie toegemaak ,voordat sy en haar juffrou terug is klas toe. 

Ek het haar skraal-huiwerende liggaampie nog lank na die tyd teen my gevoel.

Noord-Kenia se klipwoestyn het stelselmatig agtergebly.  In Sololo het ons gestop om te sien of ons Kariuki, 'n polisieman wat Lodie verlede jaar ontmoet het en ook in sy boek verskyn, in die hande kon kry.  Die gawe geregsman wat in Turbi saam met ons tot by die begraafplaas gery het, het ons vertel waar Kariuki tans is.

Hy was egter nie daar nie en twee ander polisiemanne het saam met ons chapati geëet en chai-tee  gedrink.  Die vrou, wat ons bedien het, geklee in 'n helder ligblou gewaad,  het in die deurraam gestaan en haar kleinding geborsvoed.  Agter haar was die amper tropiese groen plantegroei en die spatsels kleur op die wasgoedlyn 'n skelle kontras met die barre klipmassa waardeur ons die afgelope paar dae gery het.  

Vroue in Kenia is lief vir helder kleure.  Soos wat ons Sololo verlaat het, het Lodie 'n ouer vrou met 'n magnetiese lemmetjiegroen drapeersel  raakgesien.  Hy het onmiddellik afgetrek en probeer om dit by haar te koop.  Sy het die dit effe losgemaak en in 'n besliste weiering nog stywer om haar gevou.

Hierdie keer het Lodie nie nee vir 'n antwoord gevat nie.  Hy het aangery, gestop, afgetrek en na haar toe gestap.  'n Ander  vrou wat beter as die vorige tolk kon Engels praat het sy aanbod beter verduidelik en haar eie kombersie by die aanbod van 'n 1000Shilling ingesluit.  Die ouer vrou se grootste rede om te weier was dat sy kaal sou wees.  Die tolk-vroutjie se kombersie sou haar darem kon bedek voordat sy met die 1000Shilling ten minste nog twee lappe kon gaan koop.

Dit het ongeveer drie weke gelede gereën. Die diep turfspore en vassitplekke van vragmotors het diep in die paadjie ingesny. Ons was gelukkig want hoewel die pad moeiliker was, het dit al redelik begaanbaar geword. 

Na 'n lang dag het ons Moyale bereik.  Nog 'n stedelike hool.  Daar is waarskynlik net een behoorlike stuk argitektuur en ons het daar oornag.  Dit was 'n Moslem-hotel waar mense nie toegelaat word om 'n kamer te deel as hulle nie getroud is nie. Nie eers ek en Anja kon 'n kamer deel nie. Ons was in kamers 40, 41 en 42.  Die luukse van 'n eie kamer en badkamergeriewe was amper te goed om waar te wees.                                                

No comments:

Post a Comment