Wednesday, June 10, 2009

Marizanne: 10 Junie 2009

Vanoggend om 08:00 het ons vertrek uit Addis. Hoe verder weg van die
stad ons gery het hoe duideliker het dit geraak dat Japan dalk moet
belê in werksgeleenthede vir straatveërs. Dit is definitief die
beginpunt van verbetering.
Vir die eerste keer het ons ook drawwers gesien. Die Ethiopieërs is
bekend vir hulle langafstandatlete. Hierdie atlete wat ons gesien het
het omtrent so vinnig gehardloop soos wat ons gery het!
Die gemiddelde vervoermiddel binne die stad is jou eie twee voetjies
of 'n taxi. Buite die stad is dit 'n donkie/jou rug en jou voete. Die
vrouens dra sulke massiewe mandjies vol beesmis/hout/hooi op hulle
rûe. Dit kan nie goed wees vir hulle skelet nie, maar watter keuse
het hulle?
As mens net 120km buite Addis is, kan jy reeds kinders vind wat nie
weet hoe om 'n blikkie Coke oop te maak nie. Dit is amper ondenkbaar.
Hulle landbou is ook basies nog pre-industrieel en hulle gebruik osse
om te ploeg. Ek kan nie verstaan dat die wêreld in so 'n totale
disekwilibrium is nie.
So elke paar kilometer verder het ons nog 'n klein dorpie gevind. Die
huise is wydverspreid in berge en dale. Ek sal nie sommer weer
Westerse statistiek glo nie, want daar is nie 'n manier wat daar
werklik 'n verteenwoordige proefgroep/volkstelling hier gehou kan word
nie. Die aard van gemeenskap en lewe is net nie daarvoor ingerig nie.
Is dit nodig om ons Westerse konsepte hier af te dwing as dit in elk
geval misleidend gaan wees?
Ons het drie keer gestop – twee keer om iets te drink en een keer om
te eet (Anja het injera - hulle tradisionele pannekoek met vulsels -
geëet en ek en Lodie het elkeen macaroni gehad). Orals was ons die
middelpunt van aandag. Indien iemand dus 'n selfbeeld probleem het
besoek gerus Ethiopië. Eenmalige aanbod nou beskikbaar.
Lodie en Anja het laasjaar ook hierdie pad gery en daar was 'n groot
deel wat laasjaar grondpad was en wat nou geteer is. Dit is mos
vooruitgang! Sulke nuus moet ook verkondig word.
Die mense noem Anja en Lodie my "mommy and daddy". Arme Anja, dan is
ek reeds haar derde kind en hier is nog een op pad!
Ons het ongeveer agt ure gery (pitstops ingesluit). Ons bly vanaand in
'n hotelletjie in Debre Marcos. Hier is toilette en 'n stort, maar die
waterpype werk nie. Sannie moet dus gaan water haal daaronder by die
dam. Nie heeltemal nie, hier is wel reeds 'n emmer wat gerantsoeneer
moet word.
Kan julle glo – dit het nou net begin reën!!! God seën Afrika.

2 comments:

  1. Hey hey hey...ek wil foto's sien van Marizanne wat tent opslaan. Watse gehotellery is dit die?

    Klink asof als goed verloop. Bly julle het julle visums gekry!

    Baie groete vanuit Papsopnat Pretoria.

    inge

    ReplyDelete
  2. Oja, Marizanne, daar is 'n briefie vir jou in die sakkie in die binnekant van die tent. Nou moet jy die tent opslaan...:)

    ReplyDelete