Monday, June 8, 2009

Marizanne: 8 Junie 2009

Ek moet begin deur te sê hoe bly ek is dat ek weer vandag in Afrikaans moet skryf. Julle sal later agterkom presies wat ek hiermee bedoel as dit kom by 'n sekere karakterskets.

Voordat ek vertrel oor vandag se 'aktiwiteit' is daar 'n paar ander dinge wat my opgeval het hier. Op straat loop ons rond met ons kameras in ons hande. Niemand het ons nog probeer takel of beroof of duik daarvoor nie. Daar is dus sekere voorafopgestelde idees oor Afrika wat eenvoudig net nie gel met die realiteit nie. Dit het ook al gebeur dat 'n winkel byvoorbeeld van buite af haglik lyk, maar binne is dit skoon en die rakke is basies volledig. Don't judge a book by its cover.

Die een geluid wat ek altyd met Addis Ababa sal assosieer is die getoet van die karre. Waar daar wel teerpaaie is, is daar nie voetoorgange of bane geverf nie. Die karre dodge en dive konstant. Die bestuurders moet definitief senuwees van staal hê. Kwadreer jou ervaring op die Suid-Afrikaanse paaie en dan sal jy dalk verstaan wat ek bedoel. Die getoet dien basies as hulle waarkuwings-en wetstelsel. Tien uit tien vir hierdie innovering van 'n kodetaal waar duidelike regeringsleiding kortkom.

My Duits word so stadigaan weer afgestof. Dit kom egter teen 'n prys. Laas jaar in Mosambiek het die groep saam met wie ek gegaan het elke dag 'n Napoleon [Dynamite] toekenning gehad - m.a.w. die grootste blaps vir die dag. Ek moet ongelukkig erken dat ek met die Ethiopieërs begin Duits praat het...en ek sukkel om op te hou.

Vanoggend vroeg reeds het ons die ontbyt buffet besoek.  Baie Westerse kos soos croissants, plaatkoekies, Rice Krispies het ons begroet. Die hotel is seker die Global Hotel vir 'n rede, of hoe?

Ons moes vandag aansoek doen vir ons Soedanse visas. Reeds om 08:00 was ons voor die hek van die ambassade. Om half nege was die deure veronderstel om te open, maar met Afrika-tyd is dit so 08:50 eers bewaarheid. Ons het 'n laaaaang ry mense op die sypaadjie sien sit maar het vasgeglo hulle wag nie vir die Soedanse ambassade nie. Ons was verkeerd. Toe die deur uiteindelik oopmaak het Idi Amin II verskyn. As jy Idi Amin II in 'n woordeboek sou opsoek sou dit waarskynlik sê:

Idi Amin II ~//*~: Amper 'n spieëlbeeld van Amin I, maar met 'n paar weke se Weigh Less agter die rug. 'n Babaseutjie gesig met pofwange en tube lippe. 'n Vel so donker soos 80% Lindt sjokolade. In Lodie se woorde: "80% kakao en 20% k...k". Geen hare op sy kop. Geel, angswekkende oë wat jou begroet. Ly oor die algemeen aan Kleinmannetjiesindroom. As hy sê spring, vra jy hoe hoog. As hy sê sit, plant jy jou boude daar op die spot. Jy argumenteer nie met hom nie. As jy aan sy verkeerde kant beland kan jy maar vergeet om jou visum op datum te kry.

Idi Amin II het ons beveel om te sit buite die hek. Hy sou ons help as hy klaar die massas buite op die sypaadjie gehelp het. Twee-en-'n-half uur het verbygegaan. Ons het eenvoudig daar gestaan. Anja het gaan water koop en ek en Lodie het mekaar se algemene kennis getoets. Ek het ver verloor. Op 'n stadium het ons selfs 'n weddenskap aangegaan oor hoe lank dit sal vat voordat iemand 'n stokkielekker in die pad optel en eet. Hartseer, ek weet.

Half elf is ons toegelaat om die ambassade binne te stap en op die fliekstoele (heel gemaklik) onder 'n afdak te sit en wag. Ons het nog gewag...gewag..en gewag. Ons is na vore geroep om ons aansoekvorms te kry. Vir so oomblik het ek en Lodie bietjie hiperventileer, want die ou agter die toonbank het gesê  ek kort 'n uitnodiging uit Soedan uit. Na goeie verduidelikings het ons hom laat verstaan dit is nie nodig nie.

Ek en Lodie het toe begin om die vorms in te vul. Die uitleg was nie ergonomies of logies effektief nie. Jy weet nie of jy bo of langs die opskriffie moet skryf nie. Dit lees ook van regs na links en die uwe moes 'n paar keer doodkrap en rigting verander.  Aan die einde was dit alles behalwe netjies. Goed, so die vorms is ingevul. Toe wag ons weer om te hoor of hulle die vorm aanvaar. Na 'n ruk het iemand uitgekom en dit aan ons teruggee. Goed, vorms teruggekry. Nou moes ons betaal...

Lodie het laas jaar $60 betaal. Hierdie jaar is die prys $61 + $39 = $100. Iewers is daar groot inflasionêre probleme. Dit draai toe uit dat nie ek of Lodie genoeg geld het nie. Ons het gereken op so $80. Gevolglik moes Anja 'n taxi kry, terugkom hotel toe, geld uit die Toyota kry en weer ambassade toe ry. Om 13:00 sluit die ambassade vir 'n breuk. Anja het by die onderste ingang gewag, aangesien die mure presies dieselfde geverf is. Sy was net 3 minute te laat vir ons om die middagbreuk te kon vryspring en ons besigheid af te handel.

Ons het ons gereedgemaak om te wag tot 2 uur wanneer hulle weer oopmaak. Ons het vir Idi gevra of ons dalkies, groot asseblief nou kan betaal. Hy het ons ingelaat maar net op die bankies laat sit. Dit was egter klaar 'n verbetering as om in die straat te staan. Ons het baie strategies vir hom gevra of Lodie 'n foto van my en hom (Idi II) kan neem. Hy het ingestem en actually geglimlag. Daarna het hy gesê: "Wait." (Altyd one syllable answers). Hy het die tesourier gaan haal en ons kon betaal. Onder die outoritêre houding het hy ook 'n hart gehad.

 Dit is nie 'n uitgemaakte saak dat ons wel more reeds ons visas sal kry nie, maar oor die algemeen is ons nogals positief daaroor.  Altesaam was ons 5.5 ure weg in en uit. Dit was baie beter as wat ek gedink het dit sou wees. Daar was 'n struktuur in hulle handeling en almal wat daar gewag het in die ry is basies teen een-uur reeds geholpe. Dit sou dalk net help as hulle iewers mens kon laat weet hoeveel dit gaan kos en 'n paar admin reëlings deurgee, maar selfs sonder dit was dit nie 'n onmoontlike taak nie. Lodie sê dat die blankes laas jaar eerste gehelp is, maar hierdie jaar was dit nie die geval nie. Ek dink dit is regverdig so, want anders diskrimineer hulle steeds. Vandag was dit first come, first served. Dit is hoe dit hoort.

Ons het lekker pasta gehad vir middagete en het eers herstel na die oggend se verrigtinge. Dit is ongelooflik hoe moeg mens word van verveeldheid J.

Vir aandete het ons net iets ligs geëet. Vir een of ander rede is ons regtig nogals moeg vanaand. Tot more!

PS. Lizelle, onthou om jou paspoort vir Thuli te stuur!!!

No comments:

Post a Comment