Thursday, June 18, 2009

Marizanne: 18 Junie 2009

Ek het vanoggend wakkergeword met die geluid van lugversorging en moes eers 'n rukkie bly lê om die voorreg te waardeer. Ek en Anja het Projek Loopplank aangepak en ons nuwe gewade uitprobeer. Lodie het ons egter meegedeel dat dit bietjie...deurskyn... en ons moes noodgedwonge nog broeke onder aangetrek: Anja het haar slaapbroek benut en ek het so 'n plaasbroek as reddingsboei gegryp.

Ons het ontbyt gehad (omelet en broodjies) en vir die eerste keer van my reis het ek kaas geëet! Dit was 'n absolute lekkerny.

Hierna het ons weer met 'n Tuk-Tuk gery op soek na 'n ontwykende skatkis: internet. Ons kon vir die eerste keer die blog oopmaak en sien hoe alles op die web verskyn het. Ons kon ook gewone teks oplaai, maar die foto's sal eers later hulle langverwagte verskyning maak.

Vandag was 'n koel dag in Gedaref en die temperatuur het geleidelik gestyg todat ons Wad Medani bereik het. Langs die pad het tientalle motorbande gelê – dit is a.g.v. die ongelooflike hitte wat deur die pad op 'n normale dag uitgestraal word.

Nadat ons met handgebare verduidelik het, het ons 'n slaapplekkie in die Continental Hotel gekry. Middagete was by 'n oulike restaurantjie langs die Blou Nyl. Dit is soos  'n oase waar water elke paar sekondes liggies uit 'n pyp gesproei word.  Van die straat se kant af sou jy nie kon raai dat die restaurant bestaan nie – dit was soos om die deur van die Secret Garden te vind. Ek het  baie lekker pizza geëet, Lodie 'n schwarma en Anja 'n hamburger. 

My reis is amper verby en daar is twee begrippe wat ek hierdie jaar op universiteit geleer het, wat ek dink op Afrika van toepassing is: instrumentele en intrinsieke steun. Afrika se infrastruktuur is op sekere plekke besig om op standaard te kom en op ander plekke is dit steeds 'n hoofpyn. 'n Skoon, werkende stort sal byvoorbeeld die lewe vergemaklik, maar dit is nie al waaroor dit gaan nie. Steun jy Afrika omdat jy dink dit kan vir jou goeie paaie, skoon strate, funksionerende internet gee? Of steun jy Afrika omdat die mense hier ménse is, omdat die kontinent uniek is? Intrinsieke steun moet meer wees as instrumentele steun indien jy hierdie kontinent se diepste geheime wil leer ken en saam wil fluister na die storie wat Afrika vertel.   

No comments:

Post a Comment