Thursday, June 18, 2009

Marizanne: 16 Junie 2009

Vanoggend het ons ons goeie vriend, Cosby, by die Foghera Hotel
gegroet. Hy het ons vertel dat hy slegs 150 Birr per maand as kelner
verdien. Dit is basies R150. Hy moet nou begin studeer en sy
rekenaarkursus kos hom 500 Birr per maand. Dit is weereens so R500
per maand. Ons het al drie saamgebondel en vir hom 'n hele paar Rand
gegee as begin. Hy is vir my die perfekte voorbeeld van iemand wat bo
sy omstandighede kan uitstyg as hy die geleentheid sou kry. Ethiopië
het meer mense soos Cosby nodig. Hy was vriendelik, behulpsaam,
nederig en ambisieus.

Ons het weereens op paaie gery wat laasjaar nog nie geteer was nie en
wat nou taamlik goed lyk. Vandag het ons omtrent ¾ van die pad teerpad
gehad en slegs ¼ was grondpad. Dit het baie beter gegaan as wat ons
gedink het dit sou gaan.

Na 'n rukkie het ons gestop en die heerlikste rolletjies en piesangs
gekoop. A.g.v. alle aandag wat op ons gevestig word, het ek naderhand
my bloes tot heel bo toegeknoop. As elke tweede kêrel vir jou knipoog
en sê "Madam" sal jy ook begin selfbewus raak. Later in die dag het
hulle aan die venster geklop, gekyk dat jy hulle sien en dan 'n
klapsoen op die venster geplak. More oggend sal ek maar my en Anja se
vesnters met Dettol disinfekteer.

'n Groot deel van die pad wat ons teen die berg afgery het was daar
padwerke. Ek praat hier van CAT-stootskrapers en allerhande ander
meganiese wonders. Padwerke in Suid-Afrika is niks om oor te kla nie.

Die hele ses ure wat ons vandag gery het, het ons duisende vee sien
migreer uit die berge na die vlaktes wat binnekort baie vrugbaar sal
wees na die reën. Baie is ook op pad na Khartoem om geslag te word.
As daar een ding is wat jy nie wil wees in hierdie wêreld of tydens
reïnkarnasie nie, dan is dit 'n donkie in Ethiopië. Dit is letterlik
die naaste wat enige een aan selfmoord kan kom.

Soos ons die 2000 meter vandag vanaf Gondar gesak het, het die
temperatuur gestyg en die aantal wetwipes en Thermal Face Water
sproeie (Lodie het soos gewoonlik een of ander chauvinistiese
opmerking gemaak J ) vermeerder. Toe ons al amper soos uitgedroogte
pruime gelyk het, het ons gestop. Twee biere en 'n kinderysie het ons
tenkies gevul.

Na ongeveer 6 ure het ons die Ethiopië/Soendangrens bereik. Ons slaap
vanaand hier in so 'n compound-effek. 'n Moderne Okonkwo (Things fall
apart) se woning. Die hoenders en vlieë baljaar en ek dink hier gaan
vanaand nog 'n groot kuier plaasvind. Ek en Anja gaan in die daktenk
slaap (my eerste keer in die tent) en Lodie slaap langs die Toyota op
'n kampbedjie.

Vanaand is dit definitief 'n wetwipe-reinigingsaand. Ons beplan om
2-Minute noodles en beskuit te eet. My reis het basies in luukse begin
en nou begin my werlike boservaringe. Tarzan, Tarzan, it's me, Jane!!!
NS. Ek het my eerste gat-in-die-grond-toilet oorleef. Soort van…

No comments:

Post a Comment