Monday, June 1, 2009

Annami: Tweede dag in Ethiopië

31 Mei 2009

Sondagoggend was ons tweede dag in Ethiopië.  Ons kon rustig by die motelletjie aan die buitewyke van Yabello gaan ontbyt eet.  Ons al drie het omelet, brood, konfyt en koffie bestel.  Of dit so by ons sou uitkom was natuurlik die groot vraag.  Die vorige dag het Lodie Chai-tee bestel en die kelner het nonchalant 'n yskoue bottel Sprite voor hom neergesit.  Hy het maar net sy kop geskud.

 Sonder die gebruik van gebaretaal sou kommunikasie in Ethiopië 'n saak van onmoontlikheid gewees het.  Engels is bykans niemand se sterkpunt nie.

Ons het die dag meesal op die pad spandeer.  Ons moes 'n hele paar keer vir mens en dier swenk.  Hulle neem die teerpad oor. Waar mens stop, is daar 'n klomp mense wat soos aasvoëls om jou saampak.  Niemand kan Engels praat nie, maar de laaste Ethiopiër ken een woord.

'n Bakhandjie (of hand) word uitgesteek en dan skril die woord "money" deur jou senuweestelsel.

Ethiopië is 'n eiesoortige en kleurvolle land.  Ons het vroeg die oggend onder andere op 'n beesveiling afgekom.   Daar het plaaslike inwoners en hulle diere saam-saam die oggend deurgebring.  'n Entjie verder was daar 'n tipe van 'n stegie waar daar 'n massa vroue en helder kopdoeke die landskap ingekleur het. 

Maar die oomblik wat mens stilhou, pyl daar manne op die bakkie af. Hulle hang so aan die voertuig dat mens wil bad as jy jou eindelik wegskeur van die massa.  In 'n stadium het 'n seuntjie 'n halfgeëte mango teen Anja se venster gevryf.  As jou verbeelding 'n bietjie sterk is, kan jy hulle asems in jou nek voel.

Lodie het naderhand 'n dreigende houding ingeneem.  Dit is klaarblyklik die enigste taal universeel verstaan word.  "Ek gaan jou wetter." (Eufemisme) is maar net een van die sinsnedes wat hy deur die loop van die dag gebruik het.

Ons het middagete in 'n onuitspreeklike dorpie geëet.  Hier het ons ene Jörg Völkel ontmoet.  Hy het buite op die restaurant se stoep gesit.  Hy is 'n Duitser wat van Egipte tot in Suid-Afrika fietstrap.

Iewers deur die loop van die ete het 'n stormbui op die omgewing neergesak.  Ons het hom vir 'n laaste koffie genooi, terwyl ons die middag omgekuier het. 

Dit was eers heelwat later wat ons koers ingeslaan het Awassa toe.  Op pad daarheen het 'n hele paar pynappelsmouse amper onder die wiel beland.  Hulle storm op enigiets of iemand, wat per toeval daar verbybeweeg, af.

Hoewel ons nuwe Duitse vriend Addis Ababa Pension voorgestel het, het ons aanbeweeg na 'n hotel waar Anja en Lodie verlede jaar gebly het.  Die Yamara hotel.  Ek en Anja het die middag gaan rondloop op soek na internetkafees.  Groot was my verbasing toe ek besef daar is ten minste drie in ons onmiddellike omgewing.  Awassa was toe nie net nog 'n spikkel op 'n kaart nie.
 

1 comment:

  1. HAHAHA, mango teen die venster. HAHA. Ek hoop jy neem ook lekker foto's Annami!

    ReplyDelete