Monday, June 15, 2009

Marizanne: 14 Junie 2009

 

Gisteraand het die muskiete my amper laat versmoor. Ek het vier keer die kamer gespuit en die hele nag was daar steeds drie bliksempies wat my net nie wou uitlos nie. Elke keer as ek een gehoor het, het ek die laken oor my kop getrek tot ek nie meer kon asemhaal nie. Survivor Africa – I've been outwitted.

Stormweer het die hele nag deur geheers. Met aandete het die krag vier keer afgegaan en ons het soos skipbreukelinge op 'n eilandjie gevoel.

Lodie-hulle moes noodgedwonge weer roomhopping doen. Eers het hulle nie warm water gehad nie. Toe het hulle toilet nie gewerk nie. Daarna het hulle agterkom dat hulle nuwe kamer se pype in die badkamer lek. Ons drie het besluit dat Ethiopië die vrot kolletjie van die kontinent is. Dit is nou maar net eens so: nadat ons ons ervaringe van ander Afrika-reise bymekaar gesit het, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat Ethiopië  eintlik nêrens inpas nie. Dit is nie swart Afrika soos wat jy vind Suid van Ethiopië nie en dit is ook nie Arabiese Afrika nie. Hulle is die BA-kinders tussen al die B-rekkers. Daar was definitief regressie tot die gemiddeld, want Ethiopië het so 'n groot rol gespeel by die Organisasie vir Afrika Eenheid en nou beweeg hulle in hulle eie skaduwee. 'n Mens kan ook net tot op 'n punt probeer liefde toon vir hierdie kontinent. Daar moet 'n tyd kom wanneer Afrika ook iets van hulle kant af doen. In Lodie se woorde: Ethiopië se verhouding met toeriste is soos 'n gereëlde huwelik . Jy probeer so hard om dit te maak werk, maar die passie skort.

Die lughawe by Gondar was werklik 'n verrassing. Dit het my baie aan Bloemfontein se lughawe laat dink. Ons het ook die lekkerste koffie daar gedrink. Starbucks kan gerus leer by die Ethiopieërs.

Toe ons in Lalibella geland het, moes ons nog omtrent 'n uur ry om by die dorp uit te kom. Die pad was goed totdat ons die dorp bereik het. Daarna was dit klippe en my maag het weer baie eienaardig begin voel. Dit was ook regtig warm, woestynagtig.

Ons het by die Lal Hotel ingeboek. Tot dusver is ons nog heel positief oor ons keuse. Ons het vir 2,5 ure die Lalibella klipkerke besoek. Die elf kerke is binne 23 jaar uit vulkaanklip gekap. Koning Lalibella het almal laat bou in die 1100's. In hierdie tyd het mense aangebied om te help bou om eenvoudig geseën te word deur die koning. Hulle wou eenvoudig begrawe word in die heilige kerke. Kan jy jouself voorstel dat mense in die een-en-twintigste eeu so 'n groot taak sal aanpak eenvoudig vir eer en selfaktualisering?

Soos dissipels moes ons elke keer ons skoene uittrek. Vir die eerste keer van hierdie hele reis het die vlieë op ons ook kom sit. Dit is die aakligste gevoel in die wêreld. Ek gaan more waarskynlik 'n stywe armpie hê a.g.v die aanhoudende vlieë-waai-uit-my-neus-oë-en-ore. Eeeeuwww!!! As 'n mens se immuniteit dit hier hou moet hulle dit wragtig bottelleer en by Christie's in Londen opveil.

Na hierdie uitputtende, tog verrykende toer het ons by 'n tradisionele musiek-en dansrestaurant iets gaan drink. Ons het almal deelgeneem aan die eg Ethiopiese skouerdans. My video sal binnekort beskikbaar wees op Youtube se Naamrukkery van die Jaar.  Lodie sê my nuwe naam is Marizanne Shaky Shaky Knoesen. Ai, ek gaan teen die tyd wat ek teruggaan 'n identiteitskrisis hê.

Toe ons weer by die hotel aangekom het, wou my deur nie oopsluit nie. Na ses dorpsgangers (moontlike rowers, onderhoudspan, sekretaris ens.) probeer het, moes hulle die slot oopsny. Die massa-sielkunde: een probeer werk en die ander klomp omring hom. Dit is die dag se grootste vermaak. Dit is 'n afwisseling van hulle normale geordende niksdoen.

Ek dink ek het vandag die harde realiteit van 'n Afrika-lewe ervaar. Dit is nie kinderspeletjies nie.  

 

 

 

No comments:

Post a Comment