Wednesday, May 27, 2009

Lodie: Ons ry

Ons het Woensdag so teen half 12 in Marsabit aangekom.
 
Dit was 'n lang, stowwerige en stamperige ry sedert Dinsdagoggend 8uur toe ons uit Isiolo weg is.
 
Daar is padwerke vir meer as 70 km. Dit het vir soms digte stofwolke gesorg wat byna ondeursigtig was. Vir die eerste keer was ek spyt dat my bakkie nie 'n snorkel aangehad het nie.
 
Dis 'n kuns om so 'n pad te ry. As jy is 'n staatsmotor of iemand anders se voertuig is, dan jaag jy dat die stofwolke staan. As jy in jou eie voertuig is, dan kruip jy. Die getal stukkende voertuie met flenters bande of uitgeskeurde skokbrekers is die bewys dat die eerste opsie nie die beste is nie. Ons het gistermiddag by so 'n 4x4 gestop. Hulle het al die vorige dag die skokbreker links voor uitgeskeur en het 'n dag later nog vir hulp uit Nairobi gewag. Ons het die een tot die volgende dorp saamgeneem sodat hy vir hulle water kon gaan haal. Dieselfde man het ons vanoggend nou weer gestrand langs die pad gekry. Hy was saam met TWEE (!) ander mans op 'n motorfiets op pad Marsabit toe gewees. Nou het die agterband die gees gegee.
 
Ons het gistermiddag vir Chai en 'n chapati by 'n winkeltjie gestop en toe byna 'n uur lank by die vriendelike mense gekuier. Vroegmiddag in bloedige, bloedige hitte het ons bo op 'n bergie by 'n verlate kerkie tent opgeslaan. Later het meisies 'n kerklied kom oefen en het Annami vir hulle Amazing Grace gelees. Na hul sangoefening het hul spontaan ingeval en die bergpaadjie met klippe begin opvul sodat ons maklik weer kon afry. Afrika.
 
Laasnag het 'n watchmens met 'n knopkierie en lang mes by ons geslaap.
 
Kort voor donker het 'n man die berg opgekom met twee bakke kos, rys en boontjies. Ons het ons stil geeet. (deelteken) Hulle het net brakwater daar. Ek wonder hoe lank dit duur om daaraan gewoond te raak.
 
Ons is vroeg weg van ons bergkoppie om die laaste ent Marsabit toe aan te pak. Verlede jaar het ek dit met die motorfiets binne 'n dag gery en baie ontwater hier opgedaag. Toe ek vandag die dorpie binnegery het, het my gedagtes ver pad geloop.
 
Donderdag so teen 11 pak ons die swaarste stuk pad aan. Ek hoop dat ons teen sononder by 'n radiotoring ;angs die pad gaan uitkom. Daar is een soldaat wat daar waghou. Daar gaan ons slaap.
 
Dit gaan verder goed met ons almal, geen probleme. Die reis, net soos verlede jaar is 'n oogoopmaker in die waarste sin van die woord.
 
Ons is nou 5 400 km van Naboom af.
 
Groete!
 

1 comment:

  1. Hi Lodie, Anja en Annami. Klink of julle 'n ongelooflike tyd het!!Ek is baie baie jaloers, al se die Bybel mens mag nie wees nie.
    Dit is net weer ongelooflik om oor die vriendelikheid en onselfsugtigheid van die mens te lees. As almal net by hierdie afrika mens kon leer.
    Geniet jul reis. Jul is verseker in 'n beter plek as ek.(Londen en Afrika, daar is geen woorde en daar is geen ooreenkoms nie)
    Groete Elana

    ReplyDelete