Sunday, May 24, 2009

Annami: Dag 15 Nairobi

href="file:///C:%5CDOCUME%7E1%5CAnnami%5CLOCALS%7E1%5CTemp%5Cmsohtmlclip1%5C01%5Cclip_themedata.thmx">

Dis bitter min dat ek wakker word met die drang om op te staan. Maar gister was anders. My oë was minder swaar as ander dae. Iets was aan't gebeur. Dit het wel 'n ruk gevat om in te skop, maar die besef dat die inhoud van my tas nog oor die vloer gestrooi is, het my badkamer toe laat strompel.

Daar was eenvoudig nie tyd vir my standaard uur en 'n half wakkerword-prosedure nie. Dit was my beurt om mense met Afrika-staaltjies en waarhede te probeer vermaak. Om met sukses hierdie onderneming aan te pak, het wel die haal van my SAL-vlug behels.

My kamer is een van die grootstes in my kommune. Maar Indië is ook groot. Groot met baie mense. In my enkelbedjie het my pa die nag geslaap. My sussie is onderdompel deur kussings en ander warmmaak fieterjasies op my lang bank en ek en my ma en my 4-jarige boetie het die slaapbank beman. En dit omdat ek 'n ekstra kamer se sleutel in die doolhof van klerestrate verlê het.

Met die opstaanslag het elkeen sy nodige koers ingeslaan. Ek natuurlik nie ver nie, aangesien Berg Kleidungen (Klere) as't ware na Mohammed gekom het. Maar alles het bo verwagting goed gegaan. Alles het gepas. Die tas was nie oorgewig nie. Buiten 'n koerant het ek niks vergeet nie. Iets wat besonders is as 'n mens in ag neem dat ek hiper deur die weer is.

Die hele pakaas (insluitende die helfte van die gesin) was reg om te gaan toe die enigste glips van die dag plaasvind. My hek se afstandbeheerder het so effe wes geswenk van waar ek vermoed het, maar na 'n intense harekloof en operasie-die-herlewing-van-my-laaste-oomblikke-in-die-huis kon ons die kommune verlaat.

Voor ek mooi kon groet en my pa die lughawe met iets kon bestook, het die vliegtuig Nairobi se koers toe ingeslaan. Drie ure en vyftig minute later het ons oor berg Kilimandjaro neergedaal. Vanuit die lug laat Nairobi mens aan Johannesburg dink. Hier en daar is daar 'n donker kol (wat Anja as 'n gebrek aan straatligte geëien het) wat deur die liggiemassa filtreer het.

Op Jomo Kenyatta aangeland het ek twee klaende Afrikaanssprekendes gevolg. Bloot in 'n poging om rigting te hou. Dit is die eerste keer waar ek in'n lughawe met dieselfde lokaal vir die aankomste en vertrekke gekonfronteer is. Aangesien die aanwysings heeltemaal voldoende is, was dit nie 'n probleem nie, net 'n moontlike bron van verwarring. Nie doodsake nie.

'n Kortkop agter die neulendes staan ons en wag om deur die doeane-amptenare te beweeg. En om tyd te spaar is 'n man besig om visumaansoekvorms ('n Suid-Afrikaner het nie 'n visum nodig om in Kenia te kom nie) uit te deel. As deel van die hele proses vra hy my wat my nasionaliteit is. Uit die aard van die saak antwoord ek hom heel beleefd: "South African." Genade onbeskryflik groot dat hierdie Keniaan nie Afrikaans kan praat of verstaan nie.

Die twee landgenote voor my besluit om net daar en dan te verkondig dat hulle nou glad nie sal omgee om die land geweier te word nie. Hulle was al "te veel hier" en ek verbeel my die vrou se neus het al hoe skerper hemelwaarts beweeg.

Soos Lodie belowe het, is ek deur 'n see van naambordjies en taxi-bestuurders begroet. Die ongeluk was, net my naam was nie op een bordjie nie. Met die intree-slag sien almal jou en almal probeer jou aandag trek. Die arme drommels was net so verward soos ek. Hulle weet nie wie is Kiepie van Kluitfontein wie hulle moet optel nie. Raai raai riepa.

Ek kies toe maar die koers in wat lyk of dit die meeste moontlikhede bied. Hoe verder ek stap hoe meer wil ek proes van histeriese lagbuie. My naam is nie daar nie. Die moontlikheid dat die knaap (wat Inge vroeër op die lughawe Patrick genoem het) aan die ander kant van die vertrek staan, was wel daar. Ewe gemoedelik-benoud piekel ek terug. Hier en daar vra een "who are you looking for?'" (Dink: "My name…") Soos wat die een na die ander bordjie en vraende gesig voor my opdoem, sak my moed in my skoene. En net voor my moed my kuit bereik, koggel Lodie se stoutgat oë my agter sy kamera.

Nog nooit was ek so bly om vir hom vies te wees nie. Hy, Anja en die uwe, Patrick het my per taxi (soos belowe) Nairobi se nag laat invaar.

Daarna was Gin-en-Tonic goed vir die senuwees en om die aanslae van die muskiete af te weer.

'n Wit geteëlde gat in die vloer en vloeiende water wat die bose wegspoel, het my stoutste verwagtinge oortref. As jy die vloertoilet besoek en jy kyk op, kyk jy jou vas in 'n engelekransie. Dieselfde stortkop wat jou van reinigende water voorsien, versier jou troon.

Ek het'n glasie moes klink op 'n vyfster Afrika-toilet.

2 comments:

  1. Ai skat... net jy wat liries sal raak oor die "fassiliteite. Kapow - luv jou my klein avonturier. Skryf 'n ding raak. die uwe, wolke van Wateren en kie... mohaha. o ja moederlief mis jou aan die kwaai kant.

    ReplyDelete