Dag 7, Donderdag 14 Mei 2009
Ek het ‘n paar keer in die nag wakker geword toe klink dit asof Hurricane Katrina om my tent kom dans het. Die wind wat van die Malawi meer af gekom het was iets ongeloofliks. Gelukkig was my tent styf in die grond vasgepen. Dit was ook verskriklik warm in my tent. Dit was darem ‘n bonus. My tent was egter teen ‘n helling opgeslaan, so ek het ‘n paar keer ook wakker geword van my bene wat skielik van die kampbedjie af gegly. Interesting night indeed.
Ons het gister besluit dat ek eerder vanaand die vis aandete aanmekaar moet slaan. Dis nou 11:18, ‘n pragtige sonskyn dag, lekker windjie wat waai en die bobbejane hardloop hier in die campinplatz rond. Ek en Anja gaan later met project Master Chef begin. Hopelik kry ons wat ons nodig het vir vanaand se vissie.
Ek het die groter deel van die oggend by die kroeg op die strand gesit en so paar inskrywings voltooi…daarna was ek na die ontvangsarea waar ons die laaste paar inskrywings en foto’s op die internet kon laai. Toe ons daar klaar was het ons sommer burgers by die hotel bestel. Jy kyk so uit op die meer en die wit strand lê so mooi voor jou.
Oppad terug na die campingplatz toe sien ek die getal mense het aansienlik vermeerder. ‘n Bus met die naam “Drifters” op geskryf het deur die oggend daar opgedaag en uit die bus het daar ‘n groot groep spierwit buitelanders uitgehop. Van hulle was van Vancouver en ander het Europese aksente.
Ek en Anja het intussen ‘n man met die naam Frank bevriend. Sy doel by die hotel is om aan gaste takies te verrig waarvoor ons te lui is. Ons het dus die man benader en hom mooi gevra of hy ons dalk met vanaand se vissie sal kan help. Hy he tons verseker dat hy alles wat ons nodig het by die plaaslike markie kan gaan kry en dat hy ook vir ons lekker vars vis sal bring. Teen so 16:00 se kant was Frank terug met ‘n sakkie vol uie, tamaties, local spices (peper is blykbaar te duur…), aartappels en twee lekker vars vissies.
Dit klink mos eenvoudig. Kry ‘n vis. Maak die vis skoon. Braai die vis. Bedien die vis.
Toe nie.
Ek het gelukkig nooit voorgegee dat ek ‘n briljante kok is nie. Daarom voel ek dat dit net beter kon gaan. Frank het ons die moeite gespaar en die vissies sommer vir ons skoongemaak. Ons het tot ‘n gehoor gehad (van die Drifters). Toe die vis uiteindelik skoongemaak is het ek en Anja die tamaties begin sny, die aartappels begin kook en die die vis met die local spices gesmeer.
Die prentjie wat ek in my kop gehad het was baie anders as die werklike een. In my kop het sulke Jamie Oliver foto’s (deur die ongelooflike David Loftus) geflits. Ons eindproduk was egter iets heel anders. Ek moet by sê dat ons vuurtjie heel ordentlik was, maar ook net vir ‘n rukkie. Ons tydsbeplanning was effe van ‘n gemors. Die kole was besig om uit te brand en die aartappels was nog nie sag nie. Ek raak nie vinnig angstig nie, maar as jy ander mense se gesondheid in jou hande het dan dink ek het jy reg om bietjie paniekerig te raak. Ons het die vis maar so lank as moontlik op die vuur gehou, want vir rou vis het niemand kans gesien nie.
En toe bedien ons aandete.
‘n Mens kon skaars iets geproe kry, want die local spices wat Frank vir ons gebring het was kragtig en die uie het self ‘n sterk smakie gehad. Ons het slegs drie borde gehad, so ons slaaibak was niks anders as verlede week se beeld nie. Sasha-Lee en Jason van Idols was teen die einde van ons aandete vol tamatie pitte. Die vis was darem gaar en die tamaties darem vars. Ek gaan nie die ete as ‘n sukses as sulks beskou nie, maar niemand het voedselvergiftiging opgedoen of na hulle Immodium gegryp nie, so tot ‘n mate was dit seker nie die ergste ete in die wêreld nie.
Na ons etery het ek besluit om weer iemand met pool aan te vat. Ek gaan egter ophou om dit te doen, want ek het weereens verloor.
Die wind het vanaand weer kwaai teen ons tente gewaai. Ek het so 01:30 wakker geword en toe neem ek foto’s van die maan…
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment