Monday, May 18, 2009
Dag 11, Maandag 18 Mei, Inge vertel
Dag 11, Maandag 18 Mei 2009
Mingwa het vanoggend vir die laaste keer vir ons kos gebring. In die een fles was daar tee met vars gemmer en in die ander een iets soortgelyk aan Matabela. Ons het toe dit saam met vars brood geëet, die mense gegroet en in die kar geklim.
Kasper, Mingwa en Scholastica het saam met ons na die dorpie toe gery. Mingwa en Schola moes na ‘n kliniek toe gaan om vir Schola vir Malaria te toets. Kasper wou saam met ons internet café toe gaan. By die internet café aangekom het alles net downhill gegaan. Lodie het vir 30min op die internet betaal en ek het vir 29 van daai minute gewag vir Google en die blogspot om oop te maak. Die USB port was ook stukkend en teen die tyd wat ek dit moes gebruik toe is ons internet tyd op. Toe ek een van die vroutjies wat daar werk nader roep om my te help toe sukkel-sukkel sy ook eers met die USB kabels rond. Toe daag die bestuurder op en hy hanna-hanna ook eers met die goed rond. Lodie het gesê hy wil nie vir die 30min betaal nie (wat 1000 Tsh was), want ons het niks uitgerig gekry nie. toe’s dit ‘n heen en weer gestryery oor hoekom ons nie wil betaal nie. Die bestuurder het selfs erken hulle internet is stadig en die USB ports is stukkend…maar hy het gevoel dis reg dat ons vir iets betaal wat ons nie gekry het nie. Ons het byna ‘n uur daar rondgestaan en iets probeer uitwerk, maar ons het niks reggekry nie. Intussen was Anja in die bank besig. Hulle het haar net so lekker daar binne besig gehou. Ek, Lodie en Kasper het vir haar buite die bank staan en wag en daar het ek weer soos ‘n onskuldige diertjie in die dieretuin gevoel, hoewel ek die een met die kamera was. Vreemd.
Die internet storie het sommer my hele oggend bederf. Ek het vir Lodie aangesteek. Ons het soos ons Kukuyu uit gery het, toe vertel Lodi eons hoe streng hulle hier met die spoedgrens is. Sy woorde is skaars uit sy mond toe word ons afgetrek. 61km/h in ‘n 30 zone. Lodie is toe weer uit die kar uit om vir “forgiveness te vra”. Haha. Die man was ons genadig en he tons sonder ‘n boete laat gaan. We thank you sir.
So rukkie later (dit was teen daai tyd al middag) toe stop ons in ‘n dorpie voor die Garman Hotel. Maar ‘n hotel is dit nie. Dis sommer iemand se vooerstoep met ‘n dek en lakens. Daar he tons elk ‘n bordjie slaptjips en ‘n koue Coke geniet. Jy kan op die gatkant van Afrika sit en jy sal steeds ‘n yskoue koeldrank kan geniet. Van die badkamers kan ek egter nie dieselfde sê nie. Ek en Anja het sommer van hulle badkamer gebruik gemaak. Ons het so padjie gevold wat tussen twee huise loop en in so “quad” gestop. Die een vrou beduie toe dat die badkamer die verste deur is. Toe ek die deur (‘n miniatuur deurtjie) oop stoot, toe staan daar nie ‘n tradisionele toilet nie. Ook nie een soos by Bongo Camping nie. Wat daar vir ons gewag het het gelyk soos ‘n skoorsteen wat uit die grond uit kom. Die kamer was pikdonker. Ek kon darem ‘n bak water (om alles mee weg te spoel) langs my uitmaak. Die skoorsteen toilet was bitter vlak gewees…dit beteken dat alles wat ingaan basies weer terug spat. Ek hoef seker nie verder daaroor uit te brei nie. Dit was ‘n nuwe en unieke ervaring vir my. Ek dink nie dis iets waaraan ek gewoond sal kan raak nie, maar vir nou sal dit maar moet deug.
Ons het aangery. En aangery. Ek het vir ‘n rukkie bestuur en amper iemand op ‘n motorfiets van die pad af gery. Ek het vir ‘n oomblik gedink ek speel Grand Theft Auto en kry punte vir sulke dinge. Ek het gelukkig betyds besef ek is nie in ‘n Playstation speletjie nie en het kort daarna die stuur weer aan Lodie oorgegee.
Ons het so laat middag by die Old Farm House aangekom, ‘n chalet bespreek (vir yours truly) en toe kon ons uiteindelik bietjie ontspan.
Dit was ‘n lang dag.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment