Saturday, May 30, 2009

Annami: Turbi

29 Mei 2009:  Besoek aan Turbi Primary School

Skool begin omstreeks twintig oor agt in Turbi.  Ons het net betyds vir 'n paar gewyde liedere en die weeklikse vlaghysingseremonie daar aangekom.  

Die kinders het in netjiese halfmaan-rye gestaan terwyl die verrigtinge aan die gang was.  Hoewel hulle meesal in ons rigting geloer het, was daar onverbiddelike dissipline terwyl hulle daarmee besig was

Meneer Pius Roba, die vise-prinsipaal, het daar met ons gesels.  12 Julie 2005 is daar 66 skoliere en dorpsinwoners deur 'n ander etniese groep vermoor.  Die vete het na bewering oor pastorale weiding gehandel.  By die skool is tekens van hierdie verwoesting nog sigbaar.   
Daar is ongeveer 370 skoolgangers.  Die oudste skoolganger 22 en die jongste is 6-jaar oud.  Sestig uit die tagtig koshuisgangers is tans ook wees as gevolg van die aanval.

Turbi Primary School vorm deel van "Primary Education" en is dus deel van die staatsverpligte en gratis onderwysstelsel.    Daar is agt skooljare in hierdie stelsel ingesluit.   As gevolg van die massamoord het talle leerlinge die skool verlaat en kameelwagters of iets soortgelyks geword.  

Shiftas (rebelle in die omgewing) het in 'n latere stadium egter hulle diere afgevat en sodoende is sommige van hierdie wagters weer in die skool opgeneem.

Die skool het tans 'n voedingsprogram waar elke leerder  'n middagete, wat gewoonlik uit mielies en ertjies bestaan, ontvang.  Water is egter 'n groot probleem in hierdie omgewing.  In die koshuis het elke leerling 'n 5liter rantsoen waarmee hulle vir drie dae moet klaarkom.  Dit is hulle drink en waswater.

Die hoof is reeds vir ses dae weg op soek na 'n  oplossing.

By die massagraf lê daar hier en daar 'n besitting van 'n slagoffer.  Dit was 'n koue oggend en die mis het swaar gehang.  
   
 

1 comment:

  1. Hi Annami.Ek geniet om te lees wat jy skryf. Ek dink ek sou dit dalk geniet het om daar vir 'n tyd skool te gee want jy noem die woord dissipline, wat ek ongelukkig nie in my klas gevind het na 7maande nie. Dalk moet die die stukkie vir my skool kinders vertaal. Geniet jul reis. Groete uit Londen. Elana

    ReplyDelete