Monday, May 11, 2009

Inge skryf (2)

Dag 2, Saterdag 9 Mei 2009: A journalist in Zimbabwe?!

Ek het vanoggend so 2 uur weer wakker geword? daar was 'n disco in die
bos. An African disco disco. Daar het vanuit die bos sulke bass beats
deurgepomp en die mense het lekker partytjie gehou. Ek het toe maar in
my tentjie gelê en net geluister. Waar in die wêreld kampeer jy tussen
die bos en die hoofweg met 'n disco nog erens daar tussenin? Net in
Botswana? dink ek?

Lodie het so 06:30 se kant aan my tent kom klop? toe's ek op om te gaan
stort. Daar was, genadiglik, lekker warm water. Iets wat ek dink die
ander drie meisies nie sommer gaan ervaar nie. Haha. Ek en Anja het
toe my tent opgeslaan, lekker nat en vol dou. Ek moes maar daai
handskoene wat my pa aangebied het saamgebring het. Daar het
gisteraand 'n Belgiese ou en 'n Franse meisie oorkant ons gekamp.
Hulle ry met 'n kar van Joburg. Toe alles uiteindelik weer opgeslaan
is toe drink ons lekker filterkoffie. Swart. El primitivo. Daarby die
vorige dag se kaas en tamatie broodjies, gekookte eiers en wors.
Breakfast of champions. En toe is ons oppad.

Soos ons in die kar gery het het ek na 'n "song" probeer soek. Elke
trip kort 'n 'song? Ek kon nie op een afkom nie. Ek neig so na The
White Stripes se We are gonna be friends. Dis lekker. Ek sit heeldag
in die kar en skryf goeterjies neer, nou is daar ink op my hemp. Ons
het tussen Francistown en Nata gestop en lekker foto's geneem langs
die pad, en ek let op dat die meerderheid karre op die pad se naam met
'n Toyo- begin!

Ons het nog aangery en toe by die Nata Lodge gestop, nie om te ontspan
nie, maar om te kyk na die heropbou proses van die lodge wat so teen
die einde van verlede jaar afgebrand het. Ek is bly om te berig hulle
is wel weer goed oppad. Dit ruik egter steeds na 'n veldbrand.

Ek het beplan om te skryf oor hoe mooi die teerpaaie in Botswana is en
soos die gedagte my tref, lyk dit asof daar 'n bom redelik onlangs in
die pad ontplof het, die pad was een reuse pothole. Die bordjies kon
eerder lui "watch out for tar road" want dit was waarvoor ons gemik
het. Ons het zig zag oor die pad beweeg, en die aankomende verkeer het
dieselfde gemaak. 'n Mens is nie op jou rustigste as daar 'n trok op
jou afgepeil kom en dan skielik van rigting verander nie.

Ons het in Nata gestop, onder 'n afdak gesit en koeldrank drink en met
ons kameras gespeel. Al te lekker. Daar het ons 'n weddenskap
aangegaan oor of ons olifante in die pad gaan sien. Ek en Anja was aan
die negatiewe kant. Dit was nie lank nie toe sien ons drie olifante
wat in, oor en langs die pad loop. Dit beteken en en Anja moet vroeg
moreoggend koffie maak. Het lekker foto's daar geneem.

Ons het so half drie se kant in Pandamantenga gestop en toe is ons
oppad grens toe. By die Botswana/Zim grens het ons deurgebreeze, hulle
het ons selfs toegelaat om foto's te neem.

En toe kom ons by die Zimbabwe grens. Ai ai ai.

Ons het 15:30 daar gestop. Die grens het 16:00 gesluit. Alles het heel
goed gegaan en ons was basies oppad toe een van die menere my vra wat
ons presies doen.

Inge: "We are writing about and taking pictures of the beauty of Africa."
Grens man: "Ah, what are they?" (Hy wys toe na Lodie en Anja)
Inge: "They are travellers."
Grens man: "Okay. And what are you?"
Inge: "I am a journalist, uhm, photographer, uuuh, I take pictures." (Vat
benoud aan my kamerasak)
(Almal word stil en dis redelik awkward?)
Grens man: "Oh. I need to give you something."
Inge: "uhmm. Okay."
Grens man: "What are you writing about?"
Inge: "The beauty of Africa. The positive side".
(Hy gaan haal toe 'n papiertjie en vra weer my paspoort)
Grens man: "You should give this to someone at the next border, your
trip is not political is it?"
Inge: "NOO! Just about the beauty of Africa?"
Grens man: "Okay, just show them this and don"t take any pictures that
might get you into trouble?"
Inge: :Yezsir!"

Jheez. Ek dink as my pa of broer by my was dan sou hulle my in die
ribbes met die elmboog gestamp het! So leer mens.

Ons het toe uiteindelik en genadiglik boei-vry deur die Zim grens
gegaan en is toe oppad na ons volgende kampplek. Oppad na die Hwange
National Park het ons heelpad foto's geneem, en dit is ook waar die kar
lekker begin vuil word het. So end later toe ry ons by die Robins Camp
in. Lodie sê die oom na wie die kamp vernoem is, het glo vir twee weke
net tee gedrink en dan oorgeslaan whiskey toe vir twee weke ens? hmmm.

Terwyl die son gesak het het ons tente opgeslaan. Lodie beweer die
hyenas loop soms in die aande deur die kamp. Ek is die enigste een van
ons drie wat in 'n tent op die grond slaap. Ek is seker ek gaan baie
rustig slaap en ek is ook seker ek gaan nie een keer aan 'n hyena dink
nie. Dankie Lodie. Vanaand was die eerste aand wat ons die volmaan
perfek kon sien. Dit was ongelooflik. Lodie het tripods gaan haal en
in die proses helfte van Anja se appels onder die kar in laat rol. Ons
het vir 'n uur lank 'n ordentlike foto van die maan probeer kry. Dit
was onmoontlik. (Waar is Lizelle en haar super kamera kennis as jy
haar nodig het?!) Ek het wel na 'n biljoen probeerslae 'n
semi-behoorlike een gekry. Thank you white balance! Inge 1 - Lodie 0.

Die liggie wat Lodie saamgebring het het die gees gegee. Ons het toe
vir so ruk in die pikdonker gesit, koffie gedrink en beskuit geëet
terwyl die maan helder voor ons skyn en die goggatjies om ons
bosgeluide maak.

Dag twee kon nie tot 'n beter einde gekom het nie.

PS: Daar is al blase op my hande. Tent opslaan is geen grap nie.
PSS: Aan my moeder 'n gelukkige Moedersdag more.

1 comment:

  1. Ek is jammer. Om te sê (let wel by die Zimbabwese GRENS)"ek is 'n JOERNALIS" is omtrent so intelligent soos om te sê "my bag could explode" op 'n Israelse lughawe. Lodie I have met my match. Ad destinatum persecor. Yeah Tuks!

    ReplyDelete