Ek dink die sirkel is voltooi.
Ons het laatmiddag uit Alexandrie weer in Kairo aangekom.
Verlede jaar was die Windsor my tuiste vir drie dae. Dit is in downtown Kairo. Die gebou is vaal, onaansienlik, glad nie uitnodigend nie maar heelwat goedkoper as enige ander goeie hotel.
Voor die hotelletjie staan stoele en tafels uitgepak tot in die straat wat tweerigting verkeer dra maar nie eers wyd genoeg is om een groot motor te laat deurry nie. Hier sit die manne. Oud. Minder oud. Jonk. Langs elke tafeltjie staan 'n waterpyp. Saam met die waterpyp kry jy nog 'n koppie vars tee met kruisementtakkies wat jy afbreek en in die tee gooi. Na so twee minute haal jy dit uit en laat die verlepte takkie langs die koppie op die silwer skinkbord le.
Ek het verlede jaar my enigste e e n s a m e dag hier beleef. Toe het ek by die Egiptenare gaan sit en tee gedrink en 'n waterpyp met appelgegeurde tabak ge-"puff".
Vroegaand vandag het ek dieselfde weer gedoen. Dit was lekker. Een van die werkers het my herken en sommer die waterpyp driekeer kom herlaai. Die tee was lekkerder as verlede jaar. Die mannetjieskatte patrolleer nog steeds hulle kant van die straat en blaas vir die indringers. Straatverkopers met sonbrille en papiersakdoeke en penne verpes jou steeds om iets van hulle te koop.
Dis toe dat die besef hom in my kom tuismaak het. Ek moet nog eenkeer met die KLR hiernatoe kom. Nog net eenkeer.
Wat die Windsor betref, dit was al tuiste vir talle rolprentsterre, en etlike Hollywoodfilms is al in die ou afgeleefde dame geskiet.
Haar gloriedae is verby, maar die herinneringe hang nog in swart-en-wit foto's teen die mure.
Ek voel soos die Windsor lyk. Ek het in Khartoem opgehou skeer en is verbaas oor hoe wit my baard is. Soos die Windsor is baie dinge net herinneringe. Maar ek weet ek moet nog weer eenkeer hier kom sit met 'n koppie kruisementtee terwyl ek na my motorfiets sit en kyk.
En ek moet dit doen voor ek nie meer op my motorfiets kan kom nie!
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment