Tuesday, July 7, 2009

Die week wat voorlê

Alhoewel ons nou naby aan die einde van ons lang reis is, is die opwinding en sweet nog nie verby nie.

Om by die piramides van Giza uit te kom, ry ons nie die kortste roete soontoe nie. Ons draai more by Luxor wes en ry dan deur die Libiese woestyn (Western Desert) tot by Kaïro / Giza. Dit is 'n byna 1 500 km rit deur die woestyn.

Daar is 'n klompie oases op die roete. Ons gaan vir vier nagte by van die oases kampeer.

'n Hoogtepunt gaan die White Desert, bekend vir die mooi rotsformasies, wees. Ek sien uit na Lizelle se foto's wat sy daar gaan neem.

Die geel sand van die duine oorkant die Nyl weerkaats goud in die Nyl hier waar ek nou sit. Dis mooi.

Ek moet nog twee eiertjies oor van Lizelle se blogs lê.

Sy het genoem dat ons twee nagte in Wadi Halfa in 'n hotel gebly het. As van die lesers 'n soortgelyke reis beplan, moenie 'n hotel soos 'n regte hotel verwag nie. Die hotelle in Wadi Halfa is reghoekige geboutjies met sandvloere, katte en die reuk van katpiepie, en beddens wat snags buite onder die sterrehemel gesit word. Na enige woestynrit kan so 'n hotel of 'n oase of 'n skok wees.

Marizanne, jy het gelees dat ek oor die koffieprys gestry het. Dis moord wat die manne hier met toeriste maak. Skrikwekkend. As jy nie oor die prys kibbel nie, betaal jy enige iets van 400% tot 1 000% meer as wat die gewone ouens betaal. Ek vermoed dat selfs jy sou voet neergesit het oor hul prysmoorde. :-)

Tot later die week!

No comments:

Post a Comment