Thursday, July 9, 2009

Al Kharga oase

Ons het gister die Nyl net suid van Luxor oorgesteek en vir 344 km wes gery tot by die Al Kharga oase in die Westelike Woestyn (Western Desert).
Die Nyl is 'n lewensaar in alle opsigte vir die Egiptenare wat langs dié groot rivier woon. Hulle plant en oes intensief in die groen strook weerskante van die Nyl.
Ry 'n mens weg van die Nyl, verdwyn die groenste groen binne 'n paar kilometer en word dit met woestynsand en duine vervang. Die "Western Desert" beslaan twee derdes van die totale oppervlakte van Egipte.
Ons almal het die beeld van 'n oase gehad: Klein dorpie, sandstraatjies, palmlanings, en 'n gevoel of die tyd vir lank stilgestaan het, soos in Soedan langs die Nyl.
Al Kharga is alles wat ons nie wou gehad het nie: Dis 'n kleinerige stadjie met robotte en teerstrate en mense wat nog gieriger op toeriste neersak as wat ons in Aswan of Luxor ervaar het.Vir 'n ete waarvoor ons 5 Egiptiese Pond in Aswan betaal het, wil hulle hier 25 Pond hê. Vir 'n teelepel konfyt is die prys byna R 8.00.
Ek hoop die volgende oases is minder kommersieel.
Ek sien uit na Lizelle se foto's wat sy gister geneem het.
Groete!

No comments:

Post a Comment