Thursday, July 16, 2009

Alexandrië o Alexandrië

Ons is nou in die noordelike hawestad Alexandrië in Egipte. Die bakkie moet van hier af terug Suid-Afrika toe verskeep word .
 
Die stad is in 334 v.C deur Alexander die Grote gestig en was vir meer as 'n duisend jaar die hoofstad van Egipte. Na Kaïro was die stad 'n salwende verrassing met baie skoner strate, baie groen parke, 'n meer ontspanne atmosfeer, en heelwat koeler weer as wat ons die vorige weke beleef het.
 
Alexandrië is ook die stad van Cleopatra en Anthony se groot liefde en waar sy selfmoord gepleeg het deur 'n slang haar te laat pik. Het Cleopatra se slang egter eerder die burokrasie hier kon pik sodat dit 'n voortydige dood kon sterf!
 
'n Privaatvoertuig in Egipte bly 'n nagmerrie. Dit neem 'n paar dae om dit in Egipte toegelaat te kry. Om dit uit die land te kry, 'n ewigheid.
 
Die goedkoopste moontlikheid om die bakkie in SA terug te kry, is eers met 'n skip tot in Duitsland waar dit dan na 'n ander skip oorgelaai word wat Durban toe gaan.
 
Vandag het ons burokrasie in sy suiwerste vorm beleef. Ons moes 'n reeks goedkeurings by verskillende staatskantore kry om weer die voertuig uit die land te neem .Die vervoermaatskappy het ons een van hul werkers geleen om te tolk en ons die pad te wys.
 
By die eerste staatskantoor het 'n norse ou vrou geweier om 'n sertifikaat uit te reik. Sy wou 'n brief in Arabies hê waarop staan tot wanneer ons in Egipte mag wees. Die visum alleen is nie voldoende nie.Ons is onverrigter sake daar weg.
 
Toe na die verkeerspolisie toe. Hulle moes 'n sertifikaat uitreik dat ons geen uitstaande boetes het nie. Ook hier het ons lank moes baklei. Hulle wou eers dat die kantoor in Aswan, byna 1 000 km verder suid, die sertifikaat uitreik want dis Aswan wat die bakkie geregistreer het. Ander SA reisigers het al tot 'n week hier vir daardie sertifikaat uit Aswan gewag. Ons kon later die polisieman oortuig om sy handtekening te gee.
 
Daarna is ons hawe toe vir die eerste deel van die doeanewerk. Daar het almal op almal geskreeu en mekaar uit die kantore gejaag. Ons het niks verstaan nie en die hele tyd soos idiote gestaan en geglimlag tot die skreeusessie verby was.
 
Hier het die volgende slegte nuus ons getref: Die bakkie moet leeg wees. Hoe reis mens oor Afrika en gee 'n leë bakkie af? Wat van al die toerusting, tente, kanne, potte ens.? Dis onmoontlik om al daardie goed per vliegtuig saam te neem Suid-Afrika toe.
 
Dis op daardie stadium wat ek my ou vriend Johannes 'n sms gestuur het dat terugry 'n al hoe groter moontlikheid word.
 
Ons het vandag nie met al die papierwerk kon klaarkry nie. More is dit Vrydag, hul Sondag, en dan is alles toe. Ons kan eers weer Saterdag verder met die werk gaan.
 
Dan moet nog oor die bak vol toerusting uitsluitsel verkry word.
 
Of miskien moet ek omdraai en terug oor Afrika ry ....
 
Groete uit die verre noorde van Afrika.
 
 

No comments:

Post a Comment