Sunday, March 22, 2009

Meer goeie nuus uit Suid-Afrika

My vriende weet wat my gevoel oor sensasie en blaaie vol negatiewe nuus is wat elke dag aan ons opgedis word. Is dit al wat Suid-Afrika te bied het?

Onlangs het ek 'n e-pos van Knysna gehad van 'n suster wat daar werk. Haar e-pos het my laat glimlag. Uiteindelik kon ek iets lees van iemand wat soveel omgee vir haar naaste het, sonder om eers na velkleur te kyk. Hier is 'n aanhaling:

"Nella is vanoggend 6uur dood, kom vertel een van haar bosslapers vriende my. Ek huil oor Nella. Dieselfde Nella wat my so baie kwaad en moedeloos gemaak het! Wat HIV positief was en TB gehad het! Wat elke keer as ek gedink het nou kom sy gereeld vir haar behandeling, weer gedros het. Wat ek soveel kere gaan soek het op hul "green" waar almal van hulle bymekaar gekom het, gedrink het, gesels het, geprostitueer het en gelag het! Soveel keer het sy vanself teruggekom as sy baie sieker was. Nella wat ek 2 Vrydae gelede in die bosse gaan soek het langs die lagune, haar in my kar gelaai (soos vele kere tevore) en hospitaal geneem het. Toe 'n stukkie geraamte. Nou is Nella dood. Het ek te min gedoen, dalk te veel!

Ek huil oor al die Nellas wat so elke dag op my pad kom. Vanaand gaan ek 'n glasie wyn drink op Nella, op Ashley wat elke dag dronk by my kom pille drink het, wat altyd vir Stefanie by die kliniek gesoek het sodat sy weer vir hom kon vertel van wat met sy lewer gebeur, vir ons die Vrydag kom groet het en gesê het hy gaan die naweek vir sy ma-hulle kuier, op die N2 doodgery is terwyl hy oor die pad hardloop om sy ma te groet - sy wat weer na haar kind toe hardloop en ook doodgery word, op ons koerantverkoper by die werk wat deur sy straatvriende in 'n Pick 'n Pay trollie aangestoot word kliniek toe omdat hy siek is, en toe klaar dood is!

Ja, en ook op Mandy, Alaska, Lenie, Eric ens.... vir wie ons ook seker moet gaan koebaai sê!

Vanaand voel ek klein as ek dink aan die kere wat ek onvergenoeg voel, as ek soms dink ek leef in 'n klein wêreldtjie! Is dit werklik klein?"


Wonderlik! Daar is nog mense wat omgee en wat bereid is om hul talente hier in Suid-Afrika aan te wend. Die dame het ook nou ingeteken op ons AoH nuusbriewe.

Die pas afgelope naweek het ek nog verdere rede gehad om moed te skep, sonskyn te sien, meer hoop vir die toekoms te kry en te weet dat daar nog soveel wonderlike mense in hierdie wonderlike land van ons woon.

Ek het besoek uit Pretoria gekry. Johannes en Liezel Cronje en hul dogter Leane, Tommie du Toit, Frik, Andrisha en Catherin van Vuuren het hul voertuie met kos en klere en speelgoed volgelaai en 'n sentrum vir kinders sonder enige heenkome hier op Naboom kom besoek.

Terwyl hulle die voertuie afgelaai het en die kindertjies met arms vol kos kombuis toe gestap het, glo ek die hemele het gejuig.

Baie dankie aan al julle wonderlike mense wat elke dag soveel wonderwerke doen en waarvan geen koerant ooit melding sal maak nie. Ons Africa our Home-span loof elkeen van julle.

Kyk na die foto's hier onder.


Waaraan het die kleine meisietjie gesit en dink?









Twee tafels het onder die kos gekreun.


Speel speel speel

No comments:

Post a Comment