Saturday, February 28, 2009

Annami skryf...

Woede
-  'n broeiplek vir slange


Eers was die wag vir die uitslae 'n knaende senuweetoestand. As daar 'n sms deurgekom het, het my hart 'n wawiel probeer maak.  Gaan ek dit maak of nie. Hier teen die einde se kant het daar 'n paar hartversakende sms'e deurgekom.  Die laaste een het iets van gaan-kyk-op-die-webblad gebrabbel.  Ek kon nie vinnig genoeg van my internet aan't werk kry nie. 

Inge se gesig het eerste die skerm versier.  Nog nooit was ek so bly om hierdie vriendin van my te sien nie.  My snaakse foto met die pen in die mond ('n gewoonte wat my voorliefde vir skryf-op-my-laptop verduidelik) het genadiglik vinnig genoeg op die skerm verskyn en die aardbol vir so twee sekondes tot stilstand geruk.  Ek is nie seker watter geluid my weer tot in bewussynsland geskok het nie. Maar ek onthou 'n onverklaarbare skril stem.  Aangesien ek die enigste een tuis was, glo ek dit was myne. 

Aan diegene wat my nou leer ken, is dit belangrik om te weet dat ek 'n reputasie het.  In die afgelope twee jaar is daar twee van my karre gesteel en verlede jaar het ek sewe selfone aan 'n verskynsel, wat ek graag as affirmative shopping  bestempel, afgestaan.  Na 'n ruk raak 'n mens se sin vir humor 'n oorlewingsmeganisme. 

Die spektakel dateer egter uit vroeër jare.   Tydens die 2003 Junie FSA-Leerlingsuitruilprogram het ek die dag voor my beoogde vlug terug Suid-Afrika toe, my rugsak by 'n uitkykpunt aan die Bodensee vergeet.  Dit is nou sowat ses jaar later en ek verstaan dit steeds nie.  Ek het 'n monster van 'n sak met alles wat moontlik van belang is, vergeet.

Om 'n lang storie kort te maak, het ek daarin geslaag om my paspoort binne die sak eenvoudig (wat fisies te swaar was om te kón vergeet) te vergeet.  Dít, natuurlik 'n storie vir 'n ander dag.

Wat die relaas wel relevant maak is die feit dat ek wraggies wéér amper 'n paspoortmoord op hande gehad het.

Verlede dinsdag het daar vroegoggend 'n sms van Lodie af deurgekom.  Dit het min of meer daarop neergekom dat ek so vinnig as moontlik my paspoortnommer sowel as die uitreikings- en die vervaldatum daarvan moes aanstuur.  Sonder daardie besonderhede kon Lodie my vlug nie bespreek nie. 

Aangesien ek 2 Februarie uit Israel aangeland het, was ek heeltemaal bewus van die feit dat my paspoort veilig iewers in my ouerhuis in Naboomspruit moes wees.  Pretoria en al sy daaglike verpligtinge het om een of ander rede dié dag onderstebo-langs gegaan.  Te midde van al die algemene verwarring moes ek inderhaas die moederknoppie druk en sodoende 'n allemintige soektog loots (iets wat ek heelwat later die middag besef het).

My silwer Yaris het net sy neus by die hek ingesteek, toe die Lodie my herinner het aan die paspoort-woord.  Na 'n lang dag van klasgaan, -gee en 'n verdagte werksonderhoud het ek die telefoon heel bewerig benader om te hoor of die soektog iets kon oplewer.  Uit die aard van die saak was my aanwysing van "iewers in my kamer of daar by die telefoon rond" nou nie so gebruikersvriendelik as wat ek dit bedoel het nie. 

Teen die tyd is my arme ouers beide op hol.  Die hele huis op sy dak en my pa skuins befoeterd.  My persoonlikheid en melodramatiese geskiedenis het weer soos 'n hele kudde ou koeie uit die niet verrys.

Snik-snik is my kommune kamer sak vir sak en boek vir boek uitmekaar gehaal en meestal op die vloer uitgestal.  Dit kon eenvoudig nie wees nie.  Die groot vraag in my gedagtes was natuurlik of ek besig was om heeltemaal van my trollie af te raak? 

                "Ek is bereid om my kop op 'n blok te sit.  Die ding is in Naboom.  Daar is en kan geen
                 argumente daaromtrent wees nie.  Ek het dit by die huis gelos want ek het gedink dit is
                 veiliger so.  Ek het dit nog vir Daddy gewys."
                 "Annami, dit kan nie hier wees nie.  Dan is ek, jou ma en Agnes blind."

Die gesprekke tussen my en my pa het so voort gestoom.  'n Sirkelargument.

Genadiglik kon ek, die volgende oggend, die vriendelike dame by binnelandse sake in Akasia se arm draai om die nodige besonderhede, danksy my identiteitsdokument, te verstrek.  Die kaartjie is bespreek en die wêreld en die projek kon weer aangaan. 

Na 'n week van honneursklasse en vryskutwerk in Midrand het die huis en die Bosveld heel aanloklik gelyk.  Die paspoort-saga het half op die agtergrond verdwyn. 

Ag, en die middag het ek en my sussie doodrustig deur my spieëlkas en al sy laaie gegaan.  Iewers langs die pad het die hele toetie my begin verveel en ek het die Star nader gehark vir 'n bietjie aktuele perspektief.  Dit is eers heelwat later wat my pa die sakie van die potensieel verlore paspoort aangeraak het.

Ek het doodrustig opgestaan, nonchalant agter die lessenaar ingeskuif.  'n Oproep gemaak, terug geleun en die eerste laai oopgetrek.

Heel bo, onderstebo, lê die groenmamba… Reg om die soekendes te pik.

No comments:

Post a Comment