Tuesday, February 24, 2009

Crybaby

Crybaby

Hi almal

Ek is Marizanne, een van die twee Stellenbossers wat deel is van AoH. Ek is al so opgewonde en hoe meer voorbereidings ek tref, hoe meer sink alles in. Ek het nou die aand my vliegkaartjies Johannesburg toe bespreek (al die vlugte is mos van daar af) en vandag was ek gou vinnig by die dokter om te hoor hoe my mediese log moet lyk. As daar 'n fobie vir dokters, naalde, operasies en hospitale is, dan het ek dit. Ek hoop teen die tyd dat ek kinders het kan hulle die baba uitlaser of Bluetooth :)  Toe ek hoor ek moet definitief vier, miskien vyf inentings kry (dele van Soedan en Ethiopië vorm o.a. deel van die African Meningitis Belt) was ek baie naby aan hiperventileer.

Vanaand het ek egter 'n baba opgepas…wait for it…wat besig is om tande te kry. Hy't gekrul van die pyn en wou nie eers kalmeer op Billy Joel se Pianoman nie.  Dit het skielik vir my baie meer pynvol gelyk as  5 naalde. Dalk was my eie tandsnyery so erg dat ek dit heeltemal uit my bewuste en onbewuste gesluit het. Dit klink vir my na die rede hoekom ek nou bietjie meer kans sien om weer terug te gaan dokter toe met my Geel Internasionale Inentingsdokument. Ek kan ten minste ingeënt word. Baie ander mense het nie eers die opsie/geleentheid nie.

Ek droom al van ons avonture in Afrika -  en met die reën wat op my dak val, gaan ek nou eers slaap.

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment