Tuesday, February 24, 2009

Inge aan die woord!

13 Februarie – 23 Februarie 2009

 

Nou toe nou…

 

Onder normale omstandighede is hierdie tyd van die jaar nie juis een van vrolikheid nie. Ek vermy dit inteendeel so ver moontlik. Maar dis seker onmoontlik om Valentynsdag mis te loop, ne? Wel, ek was in die proses om aan te trek vir 'n Ladies' Singles Dinner (ja, ons vier dit ook) toe ek die sms kry waarvoor ek al 'n hele paar ure angstig sit en wag het. Ek was vroeër die dag by Annami, waar ons saam in afwagting gesit, gelê, geloop, gestaan en gewag het.

 

Ek het aanvanklik al verlede jaar oor die projek by Annami gehoor. Toe ons nog saam geswot het het ons lank en diep oor die projek gepraat en gewonder wat die kanse sal wees dat ons inkom. Dis die kans van 'n leeftyd. Ek onthou nog ek het in November al vir Lodie 'n e-pos gestuur en gevra of hulle fotograwe benodig…hy het op my e-pos geantwoord dat daar reeds beroepsfotograwe, soos Lizelle, aansoek gedoen het, maar dat ek ook maar net moet probeer. As voorgraadse student en amateur fotograaf het my kanse nie so blink gelyk nie.

 

Die 31ste Januarie 2009 was die sluitingsdatum vir die inskrywings. Ek het dit per toeval onthou. Ek het so tussen klasse deur besluit om nog een keer na die webblad te gaan kyk. In 'n kwessie van 'n uur was alles gestuur. Ek het net besef ek sal myself skop as ek nie eens probeer nie. Toe's dit uit my hande uit.

 

Toe ek daai Vrydag uiteindelik op die FSA webblad kom en na tien probeerslae die F5 knoppie op die rekenaar kon druk toe scroll ek links en regs en op en af. Uiteindelik toe sien ek wat ek al heeldag wou sien…met Annami al gillend op die foon. Ons is albei vir die projek gekeur. My hart het vir so paar sekondes gaan staan en toe besef ek dat dit nou 'n realiteit is. Ek het wie ookal gedink het Friday the 13th is ongelukkig, verkeerd bewys. Nou toe nou. En nou, byna drie weke later sit ek met my bespreekte vliegtuigkaartjie en hope ongewondenheid.

 

Haleluja.

 

As 'n klein dogtertjie was ek byna nooit siek nie…en het dus bitter selde pille en inspuitings as sulks nodig gehad. Nou sit ek hier met 'n lang lys van potensiële siektes en kwale wat ek kan optel. Hopelik sal die Immodium diep in my medikit bly lê…

 

Ek sien eerstens uit na die naweek waar ons die geleentheid kry om al die kanidate te ontmoet. Van wat ek kan aflei is ons vier baie verskillende jong dames; so dit beloof om 'n interessante naweek te wees. Lizelle en Marizanne gaan opgevlieg word hier na ons toe en hopelik kry ons dit reg om na die projek 'n reünie daar onder in die Kaap by hulle te reël. Dis seker regverdig…J

 

Tans is ek in die proses om so veel as moontlik oor die lande waardeur ek reis te leer. Dis goed dat ek 'n liefde vir fun facts het! Met elke bladsy wat ek lees groei die opgewondenheid in my. Dis egter een ding om oor 'n lewenstyl of kultuur te lees en 'n ander om dit eerstehands te ervaar. Ek wag (alweer) in angs vir die projek om amptelik af te skop.

 

Vir nou is dit al wat ek op die hart het, want dit het nog eerlikwaar nie heeltemal by my ingesink nie. Maar soos ons die slapies aftel sal dit ook aansienlik verander.

 

Tot later.

 

No comments:

Post a Comment