Saturday, February 28, 2009

Annami skryf...

Woede
-  'n broeiplek vir slange


Eers was die wag vir die uitslae 'n knaende senuweetoestand. As daar 'n sms deurgekom het, het my hart 'n wawiel probeer maak.  Gaan ek dit maak of nie. Hier teen die einde se kant het daar 'n paar hartversakende sms'e deurgekom.  Die laaste een het iets van gaan-kyk-op-die-webblad gebrabbel.  Ek kon nie vinnig genoeg van my internet aan't werk kry nie. 

Inge se gesig het eerste die skerm versier.  Nog nooit was ek so bly om hierdie vriendin van my te sien nie.  My snaakse foto met die pen in die mond ('n gewoonte wat my voorliefde vir skryf-op-my-laptop verduidelik) het genadiglik vinnig genoeg op die skerm verskyn en die aardbol vir so twee sekondes tot stilstand geruk.  Ek is nie seker watter geluid my weer tot in bewussynsland geskok het nie. Maar ek onthou 'n onverklaarbare skril stem.  Aangesien ek die enigste een tuis was, glo ek dit was myne. 

Aan diegene wat my nou leer ken, is dit belangrik om te weet dat ek 'n reputasie het.  In die afgelope twee jaar is daar twee van my karre gesteel en verlede jaar het ek sewe selfone aan 'n verskynsel, wat ek graag as affirmative shopping  bestempel, afgestaan.  Na 'n ruk raak 'n mens se sin vir humor 'n oorlewingsmeganisme. 

Die spektakel dateer egter uit vroeër jare.   Tydens die 2003 Junie FSA-Leerlingsuitruilprogram het ek die dag voor my beoogde vlug terug Suid-Afrika toe, my rugsak by 'n uitkykpunt aan die Bodensee vergeet.  Dit is nou sowat ses jaar later en ek verstaan dit steeds nie.  Ek het 'n monster van 'n sak met alles wat moontlik van belang is, vergeet.

Om 'n lang storie kort te maak, het ek daarin geslaag om my paspoort binne die sak eenvoudig (wat fisies te swaar was om te kón vergeet) te vergeet.  Dít, natuurlik 'n storie vir 'n ander dag.

Wat die relaas wel relevant maak is die feit dat ek wraggies wéér amper 'n paspoortmoord op hande gehad het.

Verlede dinsdag het daar vroegoggend 'n sms van Lodie af deurgekom.  Dit het min of meer daarop neergekom dat ek so vinnig as moontlik my paspoortnommer sowel as die uitreikings- en die vervaldatum daarvan moes aanstuur.  Sonder daardie besonderhede kon Lodie my vlug nie bespreek nie. 

Aangesien ek 2 Februarie uit Israel aangeland het, was ek heeltemaal bewus van die feit dat my paspoort veilig iewers in my ouerhuis in Naboomspruit moes wees.  Pretoria en al sy daaglike verpligtinge het om een of ander rede dié dag onderstebo-langs gegaan.  Te midde van al die algemene verwarring moes ek inderhaas die moederknoppie druk en sodoende 'n allemintige soektog loots (iets wat ek heelwat later die middag besef het).

My silwer Yaris het net sy neus by die hek ingesteek, toe die Lodie my herinner het aan die paspoort-woord.  Na 'n lang dag van klasgaan, -gee en 'n verdagte werksonderhoud het ek die telefoon heel bewerig benader om te hoor of die soektog iets kon oplewer.  Uit die aard van die saak was my aanwysing van "iewers in my kamer of daar by die telefoon rond" nou nie so gebruikersvriendelik as wat ek dit bedoel het nie. 

Teen die tyd is my arme ouers beide op hol.  Die hele huis op sy dak en my pa skuins befoeterd.  My persoonlikheid en melodramatiese geskiedenis het weer soos 'n hele kudde ou koeie uit die niet verrys.

Snik-snik is my kommune kamer sak vir sak en boek vir boek uitmekaar gehaal en meestal op die vloer uitgestal.  Dit kon eenvoudig nie wees nie.  Die groot vraag in my gedagtes was natuurlik of ek besig was om heeltemaal van my trollie af te raak? 

                "Ek is bereid om my kop op 'n blok te sit.  Die ding is in Naboom.  Daar is en kan geen
                 argumente daaromtrent wees nie.  Ek het dit by die huis gelos want ek het gedink dit is
                 veiliger so.  Ek het dit nog vir Daddy gewys."
                 "Annami, dit kan nie hier wees nie.  Dan is ek, jou ma en Agnes blind."

Die gesprekke tussen my en my pa het so voort gestoom.  'n Sirkelargument.

Genadiglik kon ek, die volgende oggend, die vriendelike dame by binnelandse sake in Akasia se arm draai om die nodige besonderhede, danksy my identiteitsdokument, te verstrek.  Die kaartjie is bespreek en die wêreld en die projek kon weer aangaan. 

Na 'n week van honneursklasse en vryskutwerk in Midrand het die huis en die Bosveld heel aanloklik gelyk.  Die paspoort-saga het half op die agtergrond verdwyn. 

Ag, en die middag het ek en my sussie doodrustig deur my spieëlkas en al sy laaie gegaan.  Iewers langs die pad het die hele toetie my begin verveel en ek het die Star nader gehark vir 'n bietjie aktuele perspektief.  Dit is eers heelwat later wat my pa die sakie van die potensieel verlore paspoort aangeraak het.

Ek het doodrustig opgestaan, nonchalant agter die lessenaar ingeskuif.  'n Oproep gemaak, terug geleun en die eerste laai oopgetrek.

Heel bo, onderstebo, lê die groenmamba… Reg om die soekendes te pik.

Tuesday, February 24, 2009

Crybaby

Crybaby

Hi almal

Ek is Marizanne, een van die twee Stellenbossers wat deel is van AoH. Ek is al so opgewonde en hoe meer voorbereidings ek tref, hoe meer sink alles in. Ek het nou die aand my vliegkaartjies Johannesburg toe bespreek (al die vlugte is mos van daar af) en vandag was ek gou vinnig by die dokter om te hoor hoe my mediese log moet lyk. As daar 'n fobie vir dokters, naalde, operasies en hospitale is, dan het ek dit. Ek hoop teen die tyd dat ek kinders het kan hulle die baba uitlaser of Bluetooth :)  Toe ek hoor ek moet definitief vier, miskien vyf inentings kry (dele van Soedan en Ethiopië vorm o.a. deel van die African Meningitis Belt) was ek baie naby aan hiperventileer.

Vanaand het ek egter 'n baba opgepas…wait for it…wat besig is om tande te kry. Hy't gekrul van die pyn en wou nie eers kalmeer op Billy Joel se Pianoman nie.  Dit het skielik vir my baie meer pynvol gelyk as  5 naalde. Dalk was my eie tandsnyery so erg dat ek dit heeltemal uit my bewuste en onbewuste gesluit het. Dit klink vir my na die rede hoekom ek nou bietjie meer kans sien om weer terug te gaan dokter toe met my Geel Internasionale Inentingsdokument. Ek kan ten minste ingeënt word. Baie ander mense het nie eers die opsie/geleentheid nie.

Ek droom al van ons avonture in Afrika -  en met die reën wat op my dak val, gaan ek nou eers slaap.

 

 

 

 

Inge aan die woord!

13 Februarie – 23 Februarie 2009

 

Nou toe nou…

 

Onder normale omstandighede is hierdie tyd van die jaar nie juis een van vrolikheid nie. Ek vermy dit inteendeel so ver moontlik. Maar dis seker onmoontlik om Valentynsdag mis te loop, ne? Wel, ek was in die proses om aan te trek vir 'n Ladies' Singles Dinner (ja, ons vier dit ook) toe ek die sms kry waarvoor ek al 'n hele paar ure angstig sit en wag het. Ek was vroeër die dag by Annami, waar ons saam in afwagting gesit, gelê, geloop, gestaan en gewag het.

 

Ek het aanvanklik al verlede jaar oor die projek by Annami gehoor. Toe ons nog saam geswot het het ons lank en diep oor die projek gepraat en gewonder wat die kanse sal wees dat ons inkom. Dis die kans van 'n leeftyd. Ek onthou nog ek het in November al vir Lodie 'n e-pos gestuur en gevra of hulle fotograwe benodig…hy het op my e-pos geantwoord dat daar reeds beroepsfotograwe, soos Lizelle, aansoek gedoen het, maar dat ek ook maar net moet probeer. As voorgraadse student en amateur fotograaf het my kanse nie so blink gelyk nie.

 

Die 31ste Januarie 2009 was die sluitingsdatum vir die inskrywings. Ek het dit per toeval onthou. Ek het so tussen klasse deur besluit om nog een keer na die webblad te gaan kyk. In 'n kwessie van 'n uur was alles gestuur. Ek het net besef ek sal myself skop as ek nie eens probeer nie. Toe's dit uit my hande uit.

 

Toe ek daai Vrydag uiteindelik op die FSA webblad kom en na tien probeerslae die F5 knoppie op die rekenaar kon druk toe scroll ek links en regs en op en af. Uiteindelik toe sien ek wat ek al heeldag wou sien…met Annami al gillend op die foon. Ons is albei vir die projek gekeur. My hart het vir so paar sekondes gaan staan en toe besef ek dat dit nou 'n realiteit is. Ek het wie ookal gedink het Friday the 13th is ongelukkig, verkeerd bewys. Nou toe nou. En nou, byna drie weke later sit ek met my bespreekte vliegtuigkaartjie en hope ongewondenheid.

 

Haleluja.

 

As 'n klein dogtertjie was ek byna nooit siek nie…en het dus bitter selde pille en inspuitings as sulks nodig gehad. Nou sit ek hier met 'n lang lys van potensiële siektes en kwale wat ek kan optel. Hopelik sal die Immodium diep in my medikit bly lê…

 

Ek sien eerstens uit na die naweek waar ons die geleentheid kry om al die kanidate te ontmoet. Van wat ek kan aflei is ons vier baie verskillende jong dames; so dit beloof om 'n interessante naweek te wees. Lizelle en Marizanne gaan opgevlieg word hier na ons toe en hopelik kry ons dit reg om na die projek 'n reünie daar onder in die Kaap by hulle te reël. Dis seker regverdig…J

 

Tans is ek in die proses om so veel as moontlik oor die lande waardeur ek reis te leer. Dis goed dat ek 'n liefde vir fun facts het! Met elke bladsy wat ek lees groei die opgewondenheid in my. Dis egter een ding om oor 'n lewenstyl of kultuur te lees en 'n ander om dit eerstehands te ervaar. Ek wag (alweer) in angs vir die projek om amptelik af te skop.

 

Vir nou is dit al wat ek op die hart het, want dit het nog eerlikwaar nie heeltemal by my ingesink nie. Maar soos ons die slapies aftel sal dit ook aansienlik verander.

 

Tot later.

 

Thursday, February 19, 2009

Die deelnemers is bekend gemaak

Die deelnemers aan ons Africa our Home - reis oor Afrika is verlede Vrydag bekend gemaak. Op www.fsa-youthexchange.co.za/africaourhome.htm stel ons die deelnemers voor.

Hulle gaan binnekort op hierdie blog begin skryf. Loer gereeld hier in.

Die vlugte vir die verskillende deelnemers is afgehandel. Ons begin nou met die visums. Soos Koos Kombuis oor ou tannies voel, so voel ek oor visums.

The participants in our Africa our Home journey across Africa have been selected. We introduce them on www.fsa-youthexchange.co.za/africaourhome.htm (.)

Soon they are going to start writing on this blog. You may not miss it!

The flights have been booked. We are going to start with the visa applications soon. Like Koos Kombuis feels about old "tannies" so do I feel about visa applications.

Sunday, February 8, 2009

Lizelle aan die woord:


Nou ja. Ek kan skaars glo hierdie is die koebaai van die eerste AOH. Soos Lodie in 'n mails geskryf het: "So het maande en maande se uitsien en beplanning gerealiseer, en nou is dit verby."

Sommer net so.

lAs mense my vra hoe die trip was, kan ek net sê: "'n Belewenis wat my as mens verander het."

Dan is die volgende vraag: "Wat was die hoogte punt?"

Dan ek kan met baie sekerheid sê: "Soedan se mense."

"En dit laagtepunt?"

"Egipte se mans." (Nie almal nie, maar die overall. As ek maar mag veralgemeen.)

Toe sê iemand: "Maar jy sê dan net 'die mense.'"

Dis toe ek dit ook die eerste keer so besef. Dit is die mense.

Ek die mooiste natuurskoon gesien. Ek het onder die sterre geslaap, die White dessert het my tone gebrand, ek het die Nyl gesien sonder om te kan sien waar dit begin of eindig, ek het bokke gemelk, kameelmelk in tee gedrink, die kameel gery, kosse leer liefkry wat ek nie geweet het bestaan nie, vars dadels geeet, die "deuntjie toeters" van die busse leer liefkry, die son rooi sien sak oor Soedan, die son mooi sien verdwyn agter die peramiedes en soms in die woestyn kon ek my oë toemaak en daar was net eenvoudig doodse stilte. (Behalwe die bloed in jou ore wat jy kan hoor.) Dit alles was wonderlik. Regtig-egtig wonderlik. Maar op die ou end was dit die mense. As jy oor 50 jaar weer vir my moet vra, mag ek dalk al baie van die detail van die roete vergeet het, maar daardie mense het iets gedeel wat aan my hart kom kleef het.

Dit bring my uit by my "foto van die trip."

Ek dink julle gaan verras wees oor my keuse, maar dis vir my soos 'n simbool van dit wat ek in my hart voel:




Ek het gewonder hoe dit gaan wees om weer terug na die "normal lewe" te keer, maar ook besef ek het iets gemis terwyl ek weg van die huis was.

My mense.

Ek het vir my ma in die karoo gaan kuier en teen dit tyd wat ek terug Stellenbosch toe moes gaan, het sy vir my die volgende gegee:




Annami groet...



Vliegmakietie
Annami Mailovich

die kleintjie met die snotneus-lip
se glimlag lê in haar gees
en in die stappie met ’n skoppelmaai-wip

die vlieë hou makietie
en die dogtertjie lag
sy skater eintlik ’n deuntjie

selfs waar die wind nie waai
sal Afrika haar liefie
(haar dogtertjie)
in die lug rondswaai

die vlie
ë hou makietie
en die kindertjies blý lag
hulle sing vir mamma ’n liedjie

waar die water stop
waar die moed begewe
is dit háár kinders wat aanhou lewe

die vlieë hou makietie
die ogies begin water
maar die hártjies hou aan lag


Auf wiedersehen von Inge!

En so het dit nou tot 'n einde gekom. Na maande se beplanning, voorbereiding en opgewondenheid is ons avontuur nou verby. Dankie aan almal wat hierdie ervaring vir ons moontlik gemaak het. Dis was 'n absolute plesier om saam met Anja en Lodie te reis en ek hoop dat ons al 6 in die nabye toekoms saam so iets kan doen! Dankie vir julle almal se bydrae tot my groeiende doppie versameling! Uit Afrika het julle saam 'n whopping 128 doppies vir my terug gebring. Heitou! Ek weet ek moet eintlik net een foto opsit, maar danksy julle het ek nou 'n deeltjie van 9 lande by my en ek wil dit ook met julle deel:

Vlnr: Annami (Kenya & Etiopië), Marizanne (Etiopië & Soedan) en Lizelle (Soedan & Egipte)

Ek was in 16 dae deur 6 lande...ons het dus bittermin tyd gehad om vriendskappe met mense of plekke aan te knoop. As ek terug dink aan my deel van die toer is daar een oomblik wat vir my alles so mooi opgesom het. Dis die foto van die oulikste klein dogtertjie suid van die Sahara. Thuli. In twee dae het hierdie aktrise dogtertjie (van Bongo Camping in Tanzanië) vir my Afrika opgesom: arm, pragtig, kultuurryk, taal verskille, toerisme, liefdevol met 'n reine hart. As ek aan my deel terug dink dan sien ek hierdie gesiggie wat vir my opkyk met haar handjies propvol lewendige sprinkane...




PS: Hierdie klein dingetjie in die feetjierok het dit reg gekry om my op kamera handeviervoet te laat staan en soos 'n leeu te brul. Sy is spesiaal...